Man in hof vir Anika Smit-moord

Anika Smit

Anika Smit

ʼn 24-jarige man verskyn na verwagting Maandag in die Pretoria-Noord-landdroshof in verband met die moord op Anika Smit, die 17-jarige skoolmeisie wat in 2010 in raaiselagtige omstandighede in haar pa se huis in Pretoria vermoor is.

Maroela Media het vroeër berig die man het homself Vrydag aan die polisie oorgegee. Volgens Dlamini beweer die man hy was by Smit se moord betrokke. Sy naam kan nie bekendgemaak word voordat hy in die hof verskyn het nie.

Smit is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar pa, Johan, het op haar geskende liggaam afgekom. Haar hande is nooit gevind nie.

Johan het destyds aan die media gesê sy het die dag by die huis gebly omdat sy oorontsteking gehad het. Hy het haar deur die loop van die dag gebel, maar daar was geen antwoord nie en hy het gedink sy slaap. Hy vermoed sy het die persoon wat haar vermoor het geken, want sy het die honde toegemaak en die persoon in die huis ingelaat. Hy vermoed ook dat Anika die persoon op ʼn sosiale netwerk ontmoet het.

Nico Venter, haar eks-kêrel, is sowat twee maande ná haar dood vir haar moord in hegtenis geneem. Die aanklagte teen hom is egter ’n paar maande later teruggetrek. Hy het toe as ʼn veiligheidswag by ʼn casino gewerk.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pam ·

Sy gewete het hom gery ! n Mens se gewete is die grootste regter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.