ʼn Man van Burgersfort het Woensdag in die landdroshof in Polokwane verskyn in verband met die moord op die kliënt van ʼn plaaslike motorhandelaar wat Maandag doodgeskiet is voordat ʼn luukse BMW uit dié handelaar se vertoonkamer gesteel is.
Immanuel Charles Maboko (33) het nou op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in die hof verskyn voordat sy saak tot Mei uitgestel is vir verdere ondersoek.
Maboko het sy aansoek om borgtog laat vaar en sal tot dán in aanhouding bly.
Mashudu Malabi Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê daar word beweer dat Maboko Maandag by die betrokke BMW-handelaar in Nirvana ingestap het onder die voorwendsel dat hy ʼn motor wil koop. Hy het skielik ʼn vuurwapen uitgepluk en die motorsleutels van ʼn BMW X6 van die bestuurder geëis.
Maboko en nog ʼn makker het na bewering ook daarop aangedring dat Muofhe Luvhimbi, wat sy motor ingebring het vir instandhoudingswerk, die sleutels van sy BMW oorhandig.
Die verdagtes en die 57-jarige Luvhimbi was egter in ʼn onderonsie betrokke en Luvhimbi is op ʼn kort afstand geskiet. Hy is op slag dood.
Die verdagtes het die sleutels geneem en met ʼn goudkleurige BMW van die toneel gevlug.
Maboko is kort daarna in hegtenis geneem waar hy in die stilstaande motor langs die Peter Mokaba-stadion gesit het.
Die polisie het ook beslag gelê op twee vuurwapens. Een van dié vuurwapens is in Maboko se naam geregistreer.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
So kry boontjie sy loontjie en gelukkig gebeur dit nou al hoe meer dat die boewe/moordenaars hul rieme styf vasloop.
“Gee my jou eiendom, of ek skiet jou dood.” Dít is deesdae die modus operandi van sóveel, wat te onnosel is om aan die gevolge daarvan te dink. Elke Jan Rap en sy maat beskik mos deesdae oor ‘n vuurwapen. Hy het nou die BMW vir die tronk verruil. Mag hy lewenslank sit!
Vroeër gelees dat die oorlede mnr Luvhimbi ‘n onderwyser is. Die BMW op die foto is ‘n X6 maar nie goudkleurig nie. Het die onderwyser die X6 gery? Volgens ‘n onderwyser se betaalskaal klop die som nie. Enige verduideliking asb.
Botswana hang nog hul moordenaars. Niemand vat sommer kanse daar nie. Hier is moord aan die orde van die dag, daar word nie TWEEKEER gedink nie!!!
Nou toe nou, waar kry n onderwyser geld vir so motor? Lekker vir sekeres in ons korrupte Suid Afrika.