Man in hof vir moord op Grootbrakrivier-egpaar

Tewie en Eurika Human. Foto: Verskaf

Tewie en Eurika Human. Foto: Verskaf

Die 26-jarige man wat teregstaan vir die moord op Tewie en Eurika Human het Dinsdag weer in die plaaslike streekshof verskyn. Dié egpaar is in Junie in hul huis in Grootbrakrivier vermoor.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Thamsamqa Sishuba (26) het net vlugtig in die hof verskyn voordat die saak uitgestel is vir verdere ondersoek. Sishuba sal in aanhouding bly tot en met sy volgende verskyning op 25 Oktober.

Maroela Media het vroeër berig die Human-egpaar se liggame is op 15 Junie in hul huis gevind. Tewie was in sy vroeë 70’s en Eurika in haar laat 60’s. Hulle sou die Sondag nadat hul liggame ontdek is hul huweliksherdenking gevier het en dit was ook Eurika se verjaardag.

Carlo Vos, die Human-egpaar se skoonseun, het vroeër vanuit Florida in die VSA aan Maroela Media gesê sy skoonpa se liggaam is in die motorhuis aangetref en sy skoonma se liggaam in die egpaar se bed. Die vermoede bestaan dat die egpaar vroegoggend oorval is aangesien Eurika nog haar slaapklere aangehad het. Verskeie items is glo uit die huis gesteel.

Sishuba is later by sy huis in Wolwedans in hegtenis geneem. Volgens mediaberigte het die tweede verdagte in die saak na Lesotho gevlug voordat hy in hegtenis geneem kom word. Die polisie is na bewering tans besig met die proses om die man in Lesotho in hegtenis te laat neem sodat hy na Suid-Afrika uitgelewer kan word.

Maroela Media het kapt. Malcolm Pojie, die provinsiale polisiewoordvoerder, genader vir kommentaar en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

rudi ·

Die soort gemors loop die strate vol in SA. Al kry hy lewenslank(Prakties 12 jaar) sal daar geen regverdigheid wees nie. Net nog ‘n mes in die Afrikaner hart

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.