Man in hof vir vrou se skietdood

Odette Barkhuizen. Foto: Facebook

Odette Barkhuizen. Foto: Facebook

George Barkhuizen (45), die man wat aangekla word van sy vrou, Odette (43), se moord nadat sy in Junie in die oprit van haar kantoor in Glenvista, Johannesburg, doodgeskiet is, het Donderdag in die Johannesburg-landdroshof verskyn.

Pamela Immelman, Odette se ma, het aan Maroela Media gesê Barkhuizen se prokureur was nie teenwoordig nie en hy sal op 16 September weer in die hof verskyn vir sy borgtog-aansoek. ‘n Woordvoerder van die polisie kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

Barkhuizen is Dinsdag in hegtenis geneem nadat talle bewyse aan die lig gekom het dat hy glo agter sy vrou se moord sit. Paul O’Sullivan, ʼn forensiese konsultant en eienaar van Paul O’Sullivan & Associates, wat gratis hulp aangebied het om die saak te ondersoek, het gesê verskeie aspekte dui op Barkhuizen se betrokkenheid by Odette se moord, onder andere dat hy glo miljoene rande se versekering op haar lewe uitgeneem het slegs enkele weke voor haar dood.

George Barkhuizen word in hegtenis geneem. Foto: Verskaf

George Barkhuizen word in hegtenis geneem. Foto: Verskaf

Die Barkhuizen-egpaar was ook glo besig om te skei en daar was onenigheid oor hul besigheid wat in Odette se naam geregistreer is. Barkhuizen beweer hy was nie naby die misdaadtoneel ten tyde van sy vrou se moord nie, maar selfoonrekords bewys glo dat hy wel op die toneel was.

Intussen is die familie desperaat op soek na Warwick (23), die egpaar se oudste seun, wat gestremd is en sedert sy pa se inhegtenisneming verdwyn het. Volgens Immelman het Barkhuizen Warwick êrens gaan aflaai voordat hy Dinsdag na die polisie is vir ondervraging. Hy is toe in hegtenis geneem en is nou in polisieaanhouding, maar weier glo om te sê waar Warwick is.

Immelman het Donderdag aan Maroela Media gesê hulle weet steeds nie waar Warwick is nie, maar glo en hoop dat hy in veilige hande is. “Ons het by mense wat weet waar hy is gehoor dat hy veilig is, maar hulle weier ook om te sê waar hy is op instruksie van sy pa wat in die tronk sit. Hoe verstaan jy so iets?,” het sy gesug. “Ons hande is afgekap. Ons hoop nou maar net dat hy veilig is en dat ons met hom in aanraking kan kom sodra sy pa se borgtog-verhoor afgehandel is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marike ·

Innige simpatie vir hasr familie. Hoe kan n mens iemand se lewe so neem ai . sys n pragtige vrou wat haar lewe wou heeltemal wou uitlewe.

marike ·

Innige simpatie vir hasr familie. Hoe kan n mens iemand se lewe so neem ai . sys n pragtige vrou wat haar lewe wou heeltemal wou uitlewe.

Henk ·

weet die seun dalk iets van die moord af wat die pa nog meer moeilikheid gaan besorg?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.