Man in hof vir vrou, skoonma se skietdood

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Die man wat deur die polisie gesoek is vir die moord op sy vrou en skoonma verlede Donderdag buite Nelspruit, is in hegtenis geneem en het Woensdag vir die eerste keer in die hof verskyn.

Kol. Mtsholi Bhembe, woordvoerder van die polisie, het gesê die man, Mhlolo Paul Ngomane (44), is Dinsdag in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn wenk oor sy heenkome ontvang het.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het by Kabokweni naby Nelspruit gebeur. Volgens Bhembe het Ngomane en sy 39-jarige vrou weens huishoudelike probleme apart gewoon.

Die man het Donderdag na sy skoonouers se huis gegaan om vir sy vrou klere te neem wat sy nodig gehad het om kerk by te woon. Volgens Bhembe het die man met sy vrou probeer praat, maar sy het glo geweier. Die man het daarna na bewering ʼn vuurwapen uitgepluk en op sy vrou en haar 54-jarige ma losgebrand.

Die slagoffers is na ʼn hospitaal gehaas, maar is met hul aankoms daar dood verklaar. Albei is verskeie kere geskiet.

Volgens Bhembe het ʼn familielid van die man later ʼn vuurwapen, wat vermoedelik gebruik is om die moorde te pleeg, by die polisie ingehandig. Die man het die vuurwapen glo aan hom oorhandig voordat hy op die vlug geslaan en die polisie probeer ontduik het.

Ngomane het Woensdag vlugtig in die Kabokweni-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord. Die saak is tot 12 April uitgestel wanneer hy na verwagting om borgtog gaan aansoek doen. Hy bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.