Man in hof wat glo 2 polisiebeamptes skiet

Argieffoto

’n 30-jarige man sal na verwagting vandag in die landdroshof in Orkney in Noordwes verskyn nadat hy na bewering twee polisiebeamptes geskiet het.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte het Dinsdagoggend by sy suster se huis in Kanana aangekom waar hy sy susterskind alleen in die huis aangetref het.

“Hy is toe na bewering later deur ’n ander familielid op heter daad betrap terwyl hy probeer het om sy susterskind te verkrag.”

Die voorval is by die polisie aangemeld waarna drie polisiebeamptes van die eenheid vir gesinsgeweld, seksuele oortredings en kinderbeskerming Woensdag na die verdagte se huis gegaan het om hom in hegtenis te neem.

Die man het hom egter teëgesit en met die polisiebeamptes gestoei. Die verdagte het tydens die struweling een van die polisiebeamptes se dienspistool gegryp en lukraak skote afgevuur.

Een van die polisiebeamptes (30) is in die proses in sy regterboarm gewond waarna die polisiebeamptes vort is om mediese hulp en bystand te ontbied.

’n Polisieonderhandelaar is gevolglik na die huis waar die man en sy ouers aangetref is. Daar is met die verdagte onderhandel en hy het ingestem dat sy ouers die huis verlaat. Die man het egter weer op polisiebeamptes losgebrand toe die taktiesereaksiespan hom in hegtenis wou neem en nog ’n polisiebeampte is in die boarm geskiet.

Die verdagte is uiteindelik in hegtenis geneem en daar is op die vuurwapen beslag gelê.

Die man staan gevolglik tereg op aanklagte van poging tot moord, die steel van ’n vuurwapen en poging tot verkragting.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, het intussen die voorval te midde van polisieveiligheidsmaand veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks Adri

Kyk hoe maklik dit is om ‘n vuurwapen af te vat by! Dit gaan my verstand te bowe dat groot hoed ons wil ontwapen, maar sy mense weet nie eers hoe om dit te gebruik nie!

ES

Kan jy dit glo… hy skiet op hulle en daarna is hulle weg. Later gaan hulle terug en hy skiet weer op hulle… Hoe lewe die man nog? Het hulle nie teruggeskiet nie?

Dit skokkend om oor en oor te hoor hoe swak die polisie se vuurwapenhantering is.

Danie

Maar hulle is grootbek wanneer hulle ongewapende mense in die straat raakloop.