Man in hof wat glo dagga-plaas bedryf

Die dagga was glo op die plaas gekweek. (Foto: Verskaf)

ʼn Man wat na bewering dagga op sy plaas naby Ceres gekweek het, het Vrydag in die hof verskyn nadat die polisie op hierdie onwettige bedrywighede toegeslaan het.

Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, sê die Valke se Suid-Afrikaanse Narkotiese Handhawingsburo (Saneb) in Kaapstad het Donderdag inligting ontvang dat daar moontlik dwelms op ʼn plaas in die Bo-Swaarmoed-gebied gekweek word.

Die eenheid het die betrokke plaas gefynkam en eindelik ʼn 42-jarige man in hegtenis geneem nadat daar wel daggaplante op die plaas aangetref is.

“Altesaam 171 daggaplante met ʼn gesamentlike waarde van meer as R170 000 is op die plaas gevind,” sê Hani.

“Gedroogde dagga van sowat 80 kg is ook op die plaas gevind. Hierdie dagga het ʼn straatwaarde van byna R90 000.”

Gedroogde dagga is op die perseel aangetref. (Foto: Verskaf)

Die man is in hegtenis geneem op aanklag van dwelmhandel. Nog inhegtenisnemings is glo op hande.

Volgens Hani het die verdagte Vrydag in die hof verskyn.

Die provinsiale hoof van die Wes-Kaap, genl.maj. Mathipa Makgato, het die span bedank vir hul puik werk.

“Die Valke is daartoe verbind om dwelmproduksie in ons gemeenskappe aan te pak en sal voortgaan om vinnig te reageer op bewerings van dwelmverwante aktiwiteite.”

Die jongste inhegtenisneming volg nadat talle klopjagte die afgelope tyd gedoen is op persele waarop dagga gekweek word. Drie plantasies vol dagga is ook onlangs deur owerhede ontdek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Hy Gaan aanvoer dit is vir sy persoonlike gebruik, dit is mos wettig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.