Man in hof wat glo kerk, voertuie aan die brand steek

Foto: Acornhoek News/Facebook

Floyd Seyale (27) het in die hof verskyn ná ʼn kerk, voertuie en ʼn pastoor se huis in Acornhoek in Mpumalanga aan die brand gesteek is.

Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die brandstigting het Maandag, 2 Maart in die vroeë oggendure plaasgevind. Seyale is kort daarna in hegtenis geneem en het Dinsdag vlugtig in die Acornhoek-landdroshof verskyn op aanklag van brandstigting en opsetlike saakbeskadiging. Hy bly in aanhouding tot hy weer op 16 Maart in die hof verskyn om formeel aansoek te doen om borgtog.

“Die verdagte(s) het omstreeks 03:30 die erf betree van ʼn 63-jarige pastoor [Laison Molimi] en twee van sy voertuie aan die brand gesteek en sy huis se vensters beskadig. Die pastoor en sy vrou het gelê en slaap toe die vrou wakker geword het van ʼn vreemde geluid in hul erf,” het Hlathi verduidelik. “Sy het haar man wakker gemaak en gesê hul motors is aan die brand. Hulle het toe gesien hul vensters is ook met klippe stukkend gegooi.”

Die egpaar het na buite gehardloop waar hul motors in ligte laaie gestaan het. “Lede van die gemeenskap het vinnig reageer en probeer om die brand te blus. Tydens die bohaai het die pastoor ʼn oproep ontvang dat die kerk ook aan die brand gesteek is.”

Die polisie is in kennis gestel van die voorval by die Regeneration Church en ʼn saak van brandstigting en opsetlike saakbeskadiging is aanhangig gemaak. “Die polisie het ʼn graffiti-boodskap op die kerk se muur opgemerk wat beskuldigings maak teen die kerk. Die kerk word onder andere daarvan beskuldig dat hulle verkragters huisves, maar geen soortgelyke bewerings van verkragting kan teen die pastoor of die lidmate bewys word nie,” het Hlathi gesê.

Een van die boodskappe op die kerk se muur lui: “Hulle verkrag in Regeneration omdat hulle die slang het.” Pastoor Molimi het gesê hy is geskok oor die bewering dat hy ʼn verkragter is of dat hy ʼn slang gebruik om lidmate te lok.

Speurders het Seyale met behulp van die gemeenskap aangekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Kan nooit regverdig wat hy gedoen het nie, maar elke saak het twee kante… Sal graag sy kant wil hoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.