Man in hof wat glo PE-student verkrag

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn student van Port Elizabeth in Oktober verlede jaar ontvoer en verkrag het, sal vandag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn.

Die 33-jarige man is Woensdag in die vroeë oggendure in die Walmer-nedersetting in hegtenis geneem. Maroela Media het in Oktober verlede jaar berig die 24-jarige student het een aand ʼn saamrygeleentheid saam met drie verdagtes gekry nadat sy by ʼn kuierplek in die middestad gekuier het.

Volgens die vrou het die verdagtes haar na ʼn woonstel geneem waar een van hulle probeer het om haar te verkrag. Sy het die man afgeweer en sy twee vriende geroep om haar huis toe te neem. Die student beweer sy was onder die indruk dat hulle haar sou huis toe neem, maar hulle het na ʼn beboste gebied naby Victoriaweg gery waar hulle haar glo erg aangerand en verkrag het.

Die mans het haar vir dood in die bosse agtergelaat, maar die student kon deur die bosse terugstrompel na Victoriaweg waar ʼn lid van die publiek haar gevind het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte het reeds Donderdag op aanklagte van ontvoering en verkragting in die hof verskyn. Die saak is na vandag uitgestel.

Intussen het ʼn tweede verdagte, ʼn 31-jarige man, ook Donderdag in verband met die beweerde verkragting in die hof verskyn waar hy borgtog geweier is. Naidu het gesê hierdie verdagte is reeds in November verlede jaar in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van verkragting, ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Sy saak is tot 23 Januarie uitgestel.

Die derde verdagte is nog op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.