Man in hof wat glo staatskaping-sluipmoorde beplan het

Elvis Ramosebudi tydens ‘n vorige verskyning in die Johannesburg-landdroshof (28 April 2017). Foto: ANA

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy beplan het om senior regeringsbeamptes insluitend lede van die kabinet, vermoedelik begunstigdes van staatskaping, te vermoor, het Donderdag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

Elvis Ramosebudi (33) is op 26 April in hegtenis geneem nadat ondersoek beamptes kommunikasie onderskep het oor moontlike sluipmoorde wat beplan word. Minstens 19 persone sou geteiken word.

Ramosebudi is in Midrand in hegtenis geneem toe hy glo aan persone, wat vermoedelik die plan sou finansier, verduidelik het hoe die staatskapingsbegunstigdes deur ʼn skerpskutter vermoor sou word.

Hy word daarvan beskuldig dat hy aan die hoof gestaan het van twee organisasies, naamlik die Anti-State Capture Death Squad Alliance en die White Monopoly Capitalist Regime.

Hy het glo ʼn brief aan verskeie ondernemings gestuur en versoek om die staatsgreeppoging te finansier. Deel van die plan sou wees om die teikens by hul huise te vermoor, en die aanvalle sou soos huisrooftogte lyk.

Tydens ʼn vergadering met geheime polisiebeamptes, het Ramosebudi gesê hy het ʼn vuurwapen en gif om diegene op die lys te vermoor. Die geld sou vir logistiek en vergoeding gebruik word.

Name op die lys sluit in pres. Jacob Zuma en sy seun Duduzane, lede van die omstrede Gupta-familie, voormalige Eskom-hoof Brian Molefe, SAL-raadsvoorsitter Dudu Myeni, voormalige Eskom-voorsitter Ben Ngubane, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag Shaun Abrahams en minister van samewerkende regering en tradisionele sake Des van Rooyen.

Die saak is tot 4 Augustus uitgestel vir die staat om die inhoud van die dossier bekend te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.