Man in hof wat meisie glo met petrol verbrand

Argieffoto (pixabay.com)

ʼn 30-jarige man sal vandeesweek weer in ʼn hof in Limpopo verskyn in verband met die moord op ʼn 35-jarige vrou.

Freddy Modiba het Vrydag in die Naphuno-landdroshof in Maake buite Tzaneen verskyn in verband met die moord op sy meisie, Lindiwe Mogale. Die voorval het na bewering op 6 Mei omstreeks 03:00 by Tickyline- informele nedersetting plaasgevind.

Modiba sal op 28 Mei weer in die hof verskyn vir die formele aansoek om borgtog. Die saak is uitgestel vir verdere polisieondersoek.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê Mogale het haar kêrel op 6 Mei vergesel om petrol te gaan koop by ʼn vulstasie in Nkowa Nkowa. “Die paartjie het daarna na die kêrel se huis in Tickyline gegaan, maar op pad was daar glo ʼn hewige woordewisseling.”

Die bakleiery het by die huis voortgeduur. “Modiba het na bewering toe petrol op sy meisie uitgegooi en die huis aan die brand gesteek. Die bure het die gille gehoor en dadelik gaan ondersoek instel. Die slagoffer was reeds in vlamme gehul en hulle kon die brand blus.”

Die polisie en paramedici is ontbied. Mogale is na ʼn hospitaal geneem met ernstige brandwonde, maar die verdagte het van die toneel gevlug. “ʼn Saak van poging tot moord en brandstigting is aanhangig gemaak en die polisie ʼn soektog na die verdagte van stapel gestuur. Hy het in daardie stadium glo reeds na Gauteng gevlug.”

Mogale het op 14 Mei aan haar beserings beswyk. Die saak van poging tot moord is omgeskakel in ʼn saak van moord.

“Modiba is op 19 Mei in hegtenis geneem toe hy homself aan die polisie in Maake oorgegee het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.