Man in hof weens Knysna-dubbelmoord

Argieffoto

Argieffoto

Die hoofverdagte wat in hegtenis geneem is weens die moord op die Knysna-egpaar, Brian (67) en Christine (64) Davis, sal na verwagting Maandag in dié Wes-Kaapse dorp se landdroshof verskyn.

Lt. Luvuyo Mjekula, woordvoerder van die polisie, het gesê die 36-jarige man staan tereg op twee aanklagte van moord met verswarende omstandighede, huisroof en die diefstal van ʼn voertuig.

Die man is Vrydag in Hamburg, in die Peddie-omgewing, in hegtenis geneem. Volgens Mjekula is die man in ʼn plakkershut in hegtenis geneem waar hy saam met sy vriendin televisie gekyk het. Die polisie het op die oorledenes se selfone en hul gesteelde voertuig se sleutels beslag gelê.

Die man is die tweede verdagte wat in hegtenis geneem is in verband met die moord. ʼn Vrou, Sandi Bini (29), het Dinsdag in die Knysna-landdroshof verskyn nadat sy op 6 Augustus in hegtenis geneem is. Die vermoorde egpaar se motor en ander eiendom is glo in haar besit gevind. Sy is glo die hoofverdagte se vrou. Sy is borgtog geweier en bly in aanhouding tot haar volgende hofverskyning op 25 Augustus.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar is Britse burgers wat in Knysna woon. Die polisie is op 2 Augustus omstreeks 10:30 na die egpaar se huis in Lindsaystraat ontbied, nadat ʼn vriendin hul hondjie in die straat sien rondloop het. Sy het op hulle afgekom toe sy die hondjie teruggevat het.

Christine se liggaam is in die sitkamer aangetref. Haar keel is afgesny. Brian is in ʼn plas bloed in die motorhuis aangetref. Hy het oop wonde aan sy lyf opgedoen en is met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan. Hy is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal in George geneem, waar hy op 8 Augustus aan sy beserings beswyk het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

alida ·

Hoekom kon die SAPD nog nie die Breda moorde oplos nie?. Iewers loop ‘n wrede moordenaar rond of is ek agter die tyd. Nog nie gehoor dat iemand gevang is en/of daar enige verdagtes is nie. Ek ruik ‘n lelike geld rot!!!

CHRISTA ·

Dis lekker né – VERMOOR twee mense en daarna gaan sit jy maar net lekker en TV kyk!!! En dis nogal in ‘n plakkerskamp waar hulle gedurig kla oor dienslewering – werk hulle TV met petrol of parafien??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.