Man in hospitaal aangekeer ná polisieman se skietery

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 27-jarige man is in Louis Trichardt in hegtenis geneem in verband met ʼn skietery waartydens ʼn speurderkonstabel van die polisie ernstig gewond is.

“Die inhegtenisneming volg nadat die verdagte Saterdagoggend in die vroeë oggendure glo ʼn rooi verkeerslig verontagsaam het en ons beampte, wat in daardie stadium nie aan diens was nie, hom in sy privaat motor agterna gesit het,” het brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, Sondag gesê.

Hy het verduidelik speurderkonstabel Mpho Tshikhudo (34) het Saterdag in Kroghstraat in Louis Trichardt gery toe die bestuurder van ʼn wit Nissan Tiida ʼn rooi verkeerslig verontagsaam het. Tshikhudo het die persoon agternagesit. Die persoon het glo stilgehou en op Tshikhudo begin skiet voor hy van die toneel gevlug het. Die persoon het later ʼn ongeluk gemaak en ʼn onbekende Ford Ranger het hom opgelaai.

Tshikhudo het geen skote gevuur nie. Hy is na ʼn hospitaal geneem en opgeneem. Die passasier wat saam met hom was, is nie beseer nie.

“Die Nissan is deursoek en beamptes het beslag gelê op ʼn 9 mm-pistool, waarvan die reeksnommer afgevyl is, met een patroon. Die motor is glo in die Westenburg-gebied gesteel,” het Mojapelo bygevoeg.

Die polisie het Sondag inligting opgevolg oor die verdagte wat in die hospitaal opgeneem is. Hy het waarskynlik die beserings opgedoen toe hy Saterdagoggend die ongeluk gemaak het. “Hy is by die hospitaal in hegtenis geneem en word verbind met ʼn reeks sake in die provinsie. Hy sal binnekort in die hof verskyn,” het Mojapelo afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan S ·

Goeie werk, speurkonstabel Tshikhudo – ek hoop jy sterk spoedig aan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.