Man in hospitaal ná ongeluk in Krugerwildtuin

Dit blyk asof die man nie sy draai kon maak nie (Foto: SANParke, Facebook)

ʼn Man is die afgelope naweek na ʼn hospitaal gehaas nadat hy beheer oor sy motor verloor en dié ʼn boom in die Nasionale Krugerwildtuin getref het.

Die ongeluk het Vrydag op die Hardekooldraai tussen die Letaba- en Olifantsrivierkamp in die wildtuin plaasgevind. Die motoris was skynbaar op pad na een van die ruskampe.

Volgens Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, het die man om die draai beheer oor sy rooi sedan verloor. Die motor het gerol en ʼn boom getref.

Die man het beheer oor sy motor verloor en ‘n boom getref (Foto: SANParke, Facebook)

“Dit lyk asof die man nie die draai kon maak nie. Daar was geen remmerke op die ongelukstoneel nie,” bevestig Phaahla.

Maponya-ambulansdienste is na die toneel onbied. Die man is per ambulans na die Maphuta Malatji-hospitaal buitekant Phalaborwa geneem vir verdere mediese behandeling.

Phaahla sê volgens die man se permit het hy die oggend die wildtuin by die Orpen-hek binnegekom en was hy op pad na die Mopani-kamp.

Die Nasionale Krugerwildtuin se bestuur het weer eens ʼn beroep op gaste gedoen om by die wildtuin se spoedgrens te hou.

“Dit is vir die besoekers se eie veiligheid sowel as dié van die diere.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Shakespeare ·

Breek die reëls maar moenie verbaas wees as die reëls jou breek nie.

Jakkie ·

Ons gaan gereeld Wildtuin toe, en dis skrikwekkend hoe vinnig sekere mense daar ry. Mens moet deesdae meer op die pad konsentreer as wat mens wild kan kyk. Moet nie eers praat van dronk bestuurders in die park nie. Het al soveel dooie diere gesien wat raak gery is deur roekelose bestuurders.

marius ·

Korrek . Daar word behalwe beroepe soos in die berig NIKS gedoen nie .

Johannes ·

Baie gaan net om selfies te neem en van een kamp na die ander te jaag . Stel nie regtig belang in die diere en natuur nie.
.

Niklaas ·

Sommige motoriste in die KNP , wat meestal van hul werknemers insluit ,is skuldig aan hoë spoed oortredings. En NIKS sal sake laat verbeter nie. Ons is dit al totaal gewoond. Om hul te rapporteer is net tyd mors.

Toy ·

Hy moes vinnig dalk gery het, want die spoed in die wildtuin is eintlik baie stadig wat daar gery mag word.

lollapot ·

As jy nie n rustige dag tussen dit wat jy nie elke dag sien, wil spandeer nie, bly by jou huis! Die spoedperk is 50, as jy dit nie kan handhaaf en geen respek het nie, is die KNP nie vir jou nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.