Man in kop geskiet ná aanlyn slenter

(Argieffoto: Kent Williamson)

Twee mans is Saterdag in die Loate-omgewing naby Bronkhorstspruit deur ʼn groep gewapende mans aangeval nadat hulle met ʼn aanlyn slenter daarheen gelok is. Een van die slagoffers is tydens die voorval in die kop geskiet.

Konst. Munyadziwa Ramovha, woordvoerder van die Bronkhorstspruit-polisie, sê volgens voorlopige inligting het twee mans op ʼn advertensie vir die verkoop van ʼn Bobcat Caterpillar op Facebook se Marketplace gereageer.

“Die verkoper het glo sy ligging aan die slagoffers verskaf waarna die twee mans reguit na die adres toe gery het. Daar het een van die slagoffers die verkoper gebel, waarna hulle aangesê is om te wag tot iemand hulle kom haal.

“Oomblikke later het ongeveer tien verdagtes by die toneel opgedaag en die slagoffers met vuurwapens gedreig en geld geëis. Die slagoffers het egter gesê hulle het nie kontant by hulle nie. Een van die mans het in ʼn stryery [met ʼn aanvaller] betrokke geraak, waarna die verdagte hom in die kop geskiet het,” sê Ramovha.

Sy sê albei slagoffers is daarna na ʼn beboste gebied geneem waar hulle deursoek en van hul selfone en bankkaarte beroof is. Die slagoffers is ongeveer ses uur lank aangehou.

“Die verdagtes het die slagoffers later na hul voertuig geneem en die onbeseerde man opdrag gegee om die gewonde slagoffer hospitaal toe te neem.

“Hy kon egter nie die hospitaal in die omgewing vind nie en het besluit om na die Bronkhorstspruit-hospitaal te ry.”

Ramovha sê die man het die skietwond wonderbaarlik oorleef en is Sondag uit die hospitaal ontslaan.

“Niemand is al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord, ontvoering en gewapende roof.”

Kol. Maqhawe Simon Dhladhla, stasiebevelvoerder, het mense gewaarsku teen kwansuise winskopies op sosialemediaplatforms wat dalk lokvalle kan wees.

“Wees veral waaksaam in gebiede soos Loate en Winterveld, aangesien hulle uiteindelik slagoffers van misdaad kan word. Diegene wat aanlyn koop, moet versigtig wees en hul aankope tot betroubare webwerwe beperk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

bolletjie blom ·

Daar was nou al soveel gevalle waar mense beroof of vermoor is en nog steeds val mense vir die slenter. Moet nooit dink dit kan nie met jou gebeur nie.

Zonnebloem ·

Wees veral versigtig vir Marketplace! Dit het al te veel mense in ‘n lokval gelei.

Dries ·

Moet nie bankkaarte, selfoon met bank-app, ens saam neem nie. Wees wakker!

Heila Isabella ·

Liewe genade lees die mense nie nuus of luister na al die scams wat plaas vind nie dit is nou al die hoeveelste soortgelyke verkoop foefie wat so gedoen word en mense in lokvalle gelei word

ekweetniks ·

dit het met my gebeur…marketplace, gumtree ens. hul gebruik enige een.
beste is om foto of video van verkoper by goedere te probeer kry ANDERS BIG NO NO – net te maklik om te copy en te paste en jou te kul met fiktiewe goodies

Bolandse Nooi ·

Beste is: KOOP NIKS AANLYN NIE. As jy iets wil hê, gaan kyk daarna in ‘n winkel of in ‘n verkoopslokaal. Sodoende bly jy veilig (en lewending).

Vriendelike Frikkie ·

Nee wat Bolandse Nooi. Daarvoor het die tyd darem al aangestap. Koop by ‘n plek soos Takelot of een van daai aanlyn winkels en jy hoef nie te vrees nie. Hulle bring dit selfs na jou huis toe.

Goldy ·

In Amerika mag mens die transaksie by polisiestasies doen. In SA is openbare plekke met goeie sekuriteit die beste maar doen eers jou huiswerk oor die verkoper goed en onthou, as iets te goek klink om waar te wees is dit alhoewel scammers het dit ook geleer en vra nou naby markverwante pryse.

Stephen ·

Die Internet is vrot van hierdie advertensies. Wou onlangs n trekker koop en die advertensie het trekkers aangebied vir derde van regte prys. Te goed om waar te wees en ek het besef dis n slenter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.