Man in motorhuis vermoor: Nóg ’n verdagte vas

Gert Burger. Foto: Verskaf

ʼn Tweede verdagte is vandeesweek vasgetrek in verband met die moord op Gert Burger, die man van Kroonstad wat Saterdag in sy motorhuis ingewag is voor hy talle kere met ʼn mes gesteek en sy liggaam in ʼn plastiekseil toegedraai is.

Dít volg nadat ʼn 19-jarige verdagte kort na die moord op Burger in hegtenis geneem is.

Volgens kapt. Stephen Thakeng, ʼn woordvoerder van die polisie, het albei verdagtes reeds Dinsdag in die Kroonstad-landdroshof verskyn op aanklagte van moord. Thakeng kon nie op die stadium die ouderdom van die tweede verdagte bevestig nie.

Linette Erasmus, Burger se dogter, het Donderdag aan Maroela Media gesê dat haar gesin bloot geregtigheid wil sien geskied.

Burger, pa van vier en oupa van agt, is op die dag van sy moord vroeg vlooimark toe om ʼn paar goed te gaan koop en daarna dorp toe om sy vrou, Martie, se medisyne te kry. Sy het rumatoïede artritis en is bedlêend, het Erasmus voorheen verduidelik.

Burger het met sy aankoms terug by die huis vir sy vrou haar medisyne gegee waarna hy terug na buite is om sy bakkie in te trek. Dit is toe dat hy na bewering deur die twee verdagtes in die motorhuis oorval is.

Volgens Erasmus is haar pa in die nek en minstens ses keer in sy bors gesteek. “Daar was ʼn groot swart seil wat op die motorhuis se vloer uitgelê is. Hulle het my pa se liggaam in die seil toegedraai en dit met ʼn tou vasgebind. Hulle het die bakkie in die motorhuis ingetrek. Ons vermoed hulle wou dalk die liggaam verwyder.”

Die moordenaars het toe die huis se sleutels gevat en die ander motor se sleutels in die huis gaan haal. “Hulle het ook my ma se kamerdeur toegetrek. Hulle moes geweet het my ma is ʼn invalide. Sy het gesien die deur is toe nadat sy wakker geword het en het my pa geroep, maar hy het nie geantwoord nie.”

Volgens Erasmus het die moordenaars moontlik gedink die afstandbeheerder op die bos sleutels is die motor s’n, maar dit was egter die paniekknoppie en hulle het dit twee keer gedruk.

ʼn Plaaslike veiligheidsmaatskappy, Corcomm, het op die toneel reageer. Beamptes het tevergeefs met Erasmus se ouers kontak probeer maak, waarna hulle haar gebel het. Sy het ook haar ouers in die hande probeer kry en ten einde raad na hul huis gejaag.

Beamptes het intussen vasgestel dat Martie in die huis is, maar kon nie Erasmus se pa opspoor nie. Erasmus het gesien die bakkie staan in die motorhuis en het ʼn bondel swart plastiek gewaar. “Toe vat ek daaraan en voel dit is my pa.”

Burger laat nog drie kinders, Ronel, Nick en Chris, asook agt kleinkinders en een agterkleinkind agter.

Erasmus het Donderdag aan Maroela Media gesê dat die gesin dit maar een dag op ʼn slag neem. “Ons kyk vir nou na my ma hier by die huis. My boeties sal oor die naweek kom,” verduidelik sy.

Burger word Maandag 11:00 in die NG Kerk Kroonstad-Noord ter ruste gelê.

“Ons sal my ma daarna in ʼn versorgingsoord in Kroonstad plaas. Ek woon in die dorp en van my boeties en sussies bly ook nie te vêr nie. Ons sal almal hand by sit om haar te help versorg,” sê Erasmus.

Volgens Thakeng sal die verdagtes na verwagting Woensdag weer in die hof verskyn om aansoek om borgtog te doen. Die verdagtes bly tot dan in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rm ·

Nou wonder ek waarom maak EFF, ANC Da nie ook so vreeslike bohaai soos byvoorbeeld met die doodskis episode nie

Tina du Toit ·

Geen borg aansoek vir hulle nie. Sluit hulle toe en gooi die sleutels weg. Baie sterkte aan sy vrou, kinders, kleinkinders, agterkleinkind, en vriende.

Sophia ·

ASSEBLIEF MENSE WAT NABY BLY, RUK IN JULLE HORDES OP WOENSDAG NA DIE HOF TOE WANT DIT KAN NIE SO AANGAAN NIE!!

Cherokee ·

Word veiligheidsmaatskappye betaal om, wanneer ‘n alarm afgaan, al die telefoonnommers in hul besit te skakel met die hoop dat dit ‘n vals alarm was, of om te move met ‘n spoed? Of het hulle vanaf die slagoffer se huis geskakel? Die berig is nie duidelik daaroor nie en dit is vir moontlike potensiële kliënte belangrik om te weet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.