Man in oog geskiet toe geveg tussen groepe uitbreek

Argieffoto

Die polisie in Laudium, suidwes van Pretoria, het twee mans in hegtenis geneem en op drie vuurwapens, waarvan twee ongelisensieerd is, beslag gelê.

Dít nadat ʼn man ernstig gewond is toe hy in die oog geskiet is ná ʼn geveg tussen twee groepe.

Konst. Mandlakayise Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die man wat geskiet is, beweer hy en ʼn groep vriende het gesit en drink toe ʼn woordewisseling uitgebreek het.

“Die klaer het bevestig dat hy een van die verdagtes fisiek aangerand het voordat die argument in ʼn volskaalse fisieke geveg ontaard het,” het Zwane gesê.

Zwane sê na bewering het die drie verdagtes aanvanklik uit die geveg onttrek aangesien hulle in die minderheid was, maar later met pistole teruggekeer.

“Daar word verder beweer dat die drie verdagtes toe lukraak losgebrand en die klaer in die oog geskiet het.”

Die man is na Kalafong-hospitaal geneem. “Twee van die drie met pistole is by die Kalafong-hospitaal in hegtenis geneem terwyl die derde verdagte daarin kon slaag om te ontsnap en steeds soek is.”

Die twee verdagtes sal van poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens aangekla word en binnekort in die Pretoria-landdroshof verskyn.

Die polisie in Laudium het ʼn beroep gedoen op mense met inligting oor die derde verdagte om Stop Misdaad by 0860 010 111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karolis ·

Intussen moet onskuldige gelisensieerde wapen eienaars ly onder boewe met ongelisensieerde wapens wat lukraak skiet.

leser ·

los die gelisensieerde wapen eienaars uit, spits julle toe op die wat die wapen onwettig het
gelisensieerde eienaars weet hoe en wanneer om sy wapen te gebruik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.