Man in polisiestasie doodgeskiet

(Foto: SAPD/Facebook)

Beamptes van die Madeira-polisiestasie in Mthatha in die Oos-Kaap het Sondagaand ʼn noue ontkoming gehad toe ʼn man omstreeks 18:15 by die gemeenskapsdienssentrum ingestorm het.

“ʼn 31-jarige man was met ʼn mes gewapen. Hy het die beamptes aan diens beledig en op hulle afgestorm,” sê brig. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie. “Daar was ʼn struweling tussen die beamptes en die verdagte en die verdagte is in die polisiestasie doodgeskiet.”

Beamptes het beslag gelê op die mes wat die verdagte by hom gehad het. Nie een van die beamptes het beserings opgedoen tydens die voorval nie.

“Alle beamptes aan diens is egter vir berading verwys.”

Kinana sê die ondersoek het onthul dat die verdagte kort voor die aanval glo ook ʼn neef, ʼn vrou en nog ʼn familielid met die mes aangeval het. Hy het ʼn handsak met geld en ander items soos selfone by sy familielede gebuit. “Beamptes het ook beslag gelê op hierdie items en bankkaarte wat aan die familie behoort.”

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, het haar skok uitgespreek oor die onuitgelokte aanval op polisiebeamptes. Sy maan alle polisiebeamptes in stasies oor die provinsie heen om uiters waaksaam te bly wanneer hulle aan diens is.

ʼn Saak van poging tot moord is aanhangig gemaak en die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) sal die voorval ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Waarnemer ·

En gaan hy nou voor die hof gebring word vir poging tot moord?

Wit Leeu ·

Was dit nou nodig om die man dood te skiet. ‘n Hele polisie stasie vol polisiemanne en hulle kan hom nie oorompel nie ? Tipies polisie te dik om iets te doen !!!!!!! En daar gaan niks van die poging tot moord saak van die polisie man kom nie. Almal weet dit. Maar skiet jy nou ‘n rower in jou huis dan is die hel los ! Die polisie is ‘n grap in die land !

Christelle ·

Jou polisiestasie VOL polisiemanne is maar 2 of 3 lede, dis al wat op diens is snags in n aanklagkantoor.

Trinity ·

Daar was ‘n struweling, die verdagte is doodgeskiet en alle beamptes aan diens gaan berading kry. Ek kan nie onthou dat enige van die “magte van ouds” berading ontvang het nadat hulle, hulle werk gedoen het nie – of het ek nou weer die kat aan die stert beet?

Delia ·

Daar is geen fout met berading. Baie van die magte van ouds sit met alkohol en dwelm probleme, is geskei, hulle kinders sit met skade omdat die magte van ouds nie berading gekry het nie. Die veiligheidsmagte hetsy SAPS of SANW is ook net mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.