Man in Pta doodgeskiet, drie vas ná rooftog

Die gesteelde goedere waarop die polisie beslag gelê het. Foto: Verskaf

Die gesteelde goedere waarop die polisie beslag gelê het. Foto: Verskaf

ʼn Man is Vrydagoggend in Pretoria doodgeskiet en drie is in hegtenis geneem nadat hulle glo vroeër ʼn huis in Elarduspark in die ooste van Pretoria beroof het.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die inwoners van die huis was nie tydens die voorval tuis nie. “Daar was wel ʼn opsigter wat op die erf gewoon het. Die verdagtes het die opsigter met ʼn vuurwapen aangehou en hom gedwing om die huis oop te sluit, waarna hulle die huis geplunder het.”

Die verdagtes het in ʼn minibustaxi met hul buit van die toneel gevlug. Die opsigter is ongedeerd gelaat.

“Die polisie het inligting ontvang dat die taxi na die middestad onderweg was. Inligting oor die voertuig is versprei en die polisie was dadelik op die uitkyk daarvoor.”

Die taxi is omstreeks 06:05 in Justice Mohamed-straat (Charles-straat) in Sunnyside opgemerk en van die pad getrek. Die polisie het al vier insittendes beveel om uit die voertuig te klim om deursoek te word.

“Een van die mans het uitgeklim met ʼn versteekte vuurwapen. Toe ʼn polisiebeampte hom wou deursoek, het hy ʼn skoot afgevuur. ʼn Ander polisiebeampte het opgetree, teruggeskiet en die verdagte noodlottig gewond.”

Die ander drie verdagtes is in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op gesteelde goedere wat in die verdagtes se besit gevind is. “Verdere ondersoek het bepaal dat juwele, skootrekenaars en kameras van die goedere was wat in die Elarduspark-huis geroof is.”

Die polisie het ook beslag gelê op twee ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

“Die verdagtes is almal in hul 30’s en woon in Mamelodi. Hulle sal na verwagting Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord, huisbraak, die besit van gesteelde goedere en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.”

Die polisie ondersoek die moontlikheid of die mans met ander rooftogte verbind kan word.

Genl.maj. Eric Nkuna, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, en genl.maj. Jimmy Ledwaba, streeksbevelvoerder van die Sunnyside-kluster, het al die betrokke beamptes geloof vir hul paraatheid en hulle aangemoedig om hul goeie werk voort te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Michael ·

Ek is bly alle nuusberigte is nie net negatief maar positief soos hierdie een mooi sandvic goeie werk bou so voort.

Charlotte ·

Ja ek is ook baie bly. SA bly egter oorbevolk…daar is nie werk nie….lee beloftes word gemaak deur politieke partye en dan stem die einste diewe en moordenaars vir daardie party net om later STEEDS werkloos te wees en dan uit te gaan en te roof plunder en te moor. Iets moet heel eerste aan hierdie OORBEVOLKING gedien word. Moenie kinders in die lewe bring as jy nie n werk het nie!!!

Elize ·

Die wereld is oorbevolk en die bevolking gaan in die volgende 40 jaar meer as verdubbel teen die huidige aanwas. Eintlik moet almal net ophou om kinders in die wereld te bring of jy nou werk het of nie. Moederaarde kan klaar nie genoeg water en voedsel voorsien nie, ek sidder om te dink hoe dit oor 40 jaar gaan lyk.

Loon ·

Goeie nuus, hou so aan SAPD.
Skiet om dood te skiet, een minder gemors in die samelewing wat ons nie nodig het nie.

Charlotte ·

Ha ha ha..mooi gese!! Die bybel se as jou oog jou laat struikel haal hom uit….net so haal die gemors uit die samelewing!!! Maak SA n beter plek vir die eerbare mense!!!

Cilliers ·

In die dae toe ek nog Bisley geskiet het, sou my merker in so ‘n geval lekker hard utgeroep het: “Kol vyf!” En daarmee sou hy bedoel het ek het ‘n perfekte kolskoot geskiet, nes daai polisieman. Mag hy nog baie kolle, skiet.

Liewe heksie ·

Is so 12:30 gister verby die toneel gery en daar sien ek hom lê onder sy laaste foil kombers en ek voel wragtag n veer vir hom al wat ek gewonder het wie is die sapd lid wat so mooi geskiet het want vir hom wil Ek n bells gee

Gys du Toit ·

Dit is net jammer dat daar geen fotos van hulle is nie. Ons is ook beroof van al my vrou se juwele en ook haar oorlede ma se juwele. Publiseer hulle fotos sodat ons almal meer bedag kan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.