Man in Pta-park langs meisie doodgeskiet

Paramedici op die toneel. Foto: Best Care

Die Pretoria-polisie en ʼn private veiligheidsmaatskappy het ʼn soektog van stapel gestuur na verdagtes wat ʼn inwoner Saterdag in ʼn gewilde park koelbloedig langs sy meisie doodgeskiet het.

Maroela Media het verneem die 39-jarige man was saam met sy meisie in die Rietondale-park in Pretoria se Moot-gebied toe ʼn man in ʼn blou oorpak met geel strepe die twee genader het. Hy het na bewering ʼn vuurwapen in ʼn pak skyfies versteek, dit uitgepluk en die slagoffer verskeie kere in die gesig geskiet voordat hy en ʼn makker in ʼn silwer Volvo van die toneel gevlug het sonder om iets te vat.

Arthur Crewe, woordvoerder van Hi-Risk Unit, het Saterdag aan Maroela Media bevestig die eenheid se veiligheidsbeamptes is omstreeks 10:00 na die toneel ontbied. “ʼn Man is met verskeie koeëlwonde in die park aangetref en paramedici is ontbied. ʼn Ooggetuie het twee verdagtes gewaar en ons het ʼn soektog na hulle van stapel gestuur,” het Crewe gesê.

Xander Loubser, woordvoerder en paramedikus van Best Care-ambulansdienste, het die slagoffer op die toneel dood verklaar.

Kapt. Daniel Mavimbela, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die polisie ondersoek ʼn saak van moord.

“Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die voorval word ondersoek. Enigiemand met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om Stop Misdaad by 0860 010 111 te bel,” het hy gesê.

Die oorledene se naam kan nog nie bekend gemaak word nie. Die man is na bewering ʼn Nigeriër wat in Pretoria-Noord woonagtig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marelize ·

“Kom ons gaan parkie toe”, “Kom ons gaan inry toe”, “Kom ons gaan doen ‘window-shopping’ vanaand”, is dinge wat vir altyd verby is!

Maureen Smit ·

Die voorval is bes moontlik ‘n bende-aanval. Die probleem is egter dat dit gebeur het ten aanskoue van skool kinders wat hokkie gespeel het. Dit is onaanvaarbaar dat ons kinders hierdie geweldadige optredes aanskou! Hoe hou ons hierdie misdadigers uit ons gemeenskap?

BBIDL ·

Eens ‘n rustige buurt gewees wat besig was om ‘n oplewing te geniet.

So gaan die dorpe en buurte een-vir-een die niet in heen…

Tierboskat ·

In Junie 2018 was die lyk van ‘n vrou in die park gevind. Nou hierdie die voorval. Kinders speel hokkie en sagtebal in die park, families gebruik dit vir ontspanning, maar die Tshwane stadsraad huur ‘n deel van die park vir sokker uit aan ‘n Nigeriese burger vir ietwat meer as R6000 PER JAAR. Hy onderverhuur dit aan “spanne” wat openlik drank en dwelms gebruik. Aanvalle op en teistering van vroue kom ook voor, terwyl dit ‘n uitkykpunt vir misdadigers is. Daar is geen ligte in die park wat meer werk nie. Metropolisie weet wat aangaan maar is tevrede as hulle een maal om die park gery het. Stadsraadsbestuur en lede van die Raad, insluitend “MMCs” is al ingelig, so ook die plaaslike DA raadslid ROELOF FOURIE. Maar niks word aan die veiligheid in die park gedoen nie. TSHWANE STADSRAAD EN DIE DA MOET VOLLE VERANTWOORDELIKHEID VIR DIE SITUASIE AANVAAR. Wonder net hoe lank Tshwane gaan neem om te reageer op die plakkerskamp wat opskiet in Soutpansbergweg op die Proefplaas en langs die DIRCO gebou.

anton ·

Baie Interessant wat jy skryf tierboskat.
Ja so gaan alles stadig maar seker tot niet en binnekort gaan daar nerens meer n veilige plek wees in S.A vir mense om rond te beweeg nie. Letterlik nerens nie!!!
Dalk net in Orania.

Theo ·

Stem saam, die DA is net so pateties soos sy ANC ouboet, die twee loop hand aan hand en doen bogerall, al verskil tussen die da en die anc is, die da is blou en die anc is geel/groen/swart. Daar het nog niks in die Moot area verbeter nie vandat die DA in beheer is nie

Liz ·

Die ergste was dat ons daar was vir my 9 jarige kind se hokkie wedstryde. Daar was baie Laerskool kinders wat hokkie gespeel het. Hulle moes al die wedstryde stop en mense huistoe stuur. Jy kan nie eers meer jou kind se sport dag geniet nie.

Tanz ·

@Liz, dalk moet julle volgende keer aandring om so ‘n wedstryd op ‘n skoolveld te hou. Dit is immers baie veiliger daar as in ‘n publieke parkie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.