Man in see vermis

Argieffoto: NSRI

ʼn Man het Sondag in die see by Eastern Beach in Oos-Londen vermis geraak terwyl die strand weens ʼn haaigevaar vir swemmers gesluit was.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê NSRI-bemanning, die plaaslike brandweer, die polisie se honde-soek-en-reddingseenheid en duikeenheid is die middag na die stand ontbied na berigte van ʼn lewensredder ontvang is dat ʼn onbekende man in ʼn sterk seestroom vasgekeer is.

“Die man het onder die water verdwyn nog voor die lewensredders van die Buffalo City-munisipaliteit by hom kon uitkom,” het Lambinon gesê.

“Lewensredders het strandgangers die hele naweek gewaarsku om nie in die see in te gaan nie aangesien die munisipaliteit die strand Vrydag vir swemmers gesluit het. Die strand is gesluit nadat die karkas van ʼn spermwalvis in die omgewing uitgespoel het en dit haaiaktiwiteite kan verhoog wat ʼn gevaar vir swemmers inhou.”

Lambinon het gesê volgens berigte het sommige swemmers egter die waarskuwing en pogings deur lewensredders om hulle uit die see te hou, geïgnoreer.

“Ten spyte van ʼn uitgebreide see- en kuslynsoektog is daar geen teken van die man gevind nie.”

Die polisie se soektog na die man duur voort. Die polisie is ook besig om die identiteit van die man vas te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Luister ·

DIE STRAND WAS GESLUIT. Baie jammer vir sy naasbestaandes maar as mense in SA leer om te lees en te luister en nie alles tee te gaan nie, sal daar minder ongevalle wees. Ek, sien maar Desembers by die see, die lewensredders het al hulle dae om die balhoriges tussen die vlaggies te hou. Hulle smeek en pleit en blaas fluitjies en gaan later met rubberbote in om die teesinniges tot ander insigte te probeer dwing want die algemene houding is “ek mag hier swem, niemand is my baas nie, niemand gaan vir my se wat om te doen nie” .. net tot jy ‘n benoude GIL hoor en ‘n gespartel sien en iemand wat pleit om gered te word wat teen die rotse vasgedryf het … Die vakansie is op hande .. RESPEKTEER die lewensredders, RESPEKTEER die bordjies wat opgesit word op die strand, dit is daar vir ‘n REDE!!!

Snip ·

Ja nee, ek stem 100% saam. Daai waarskuwing is vir `n rede op gesit, maar dan kry jy mense wat hulle allies daaraan afvee en hulle dink ook nie verder as wat hulle neuse lank is nie. Plaas ander mense se lewens ook ingevaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.