ʼn 34-jarige man is in Kaapstad in hegtenis geneem omdat hy glo ʼn valse klag van ʼn kaping by die polisie aangemeld het.
Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het gesê die man het Sondag ʼn klag van ʼn kaping by die Nyanga-polisie aanhangig gemaak.
“Hy het beweer hy is die oggend teen 00:43 by ʼn verkeerslig gekaap. Hy het beweer ʼn onbekende man het hom in sy voertuig, ʼn BMW X5, genader en ʼn vuurwapen op hom gerig. Hy het gesê hy is gedwing om uit die voertuig te klim, wat hy gedoen het, waarna die ‘verdagte’ in ʼn onbekende rigting weggejaag het,” het Van Wyk gesê.
Die polisie het die saak ondersoek en die voertuig later dieselfde dag opgespoor.
“ʼn Beampte verbonde aan die provinsiale kapingseenheid het tydens die man se ondervraging agterdogtig geraak oor die klaer se bewerings. Verdere ondersoek en ondervraging het aan die lig gebring dat die man gejok het. Hy het sy werksmotor beskadig en besluit om ʼn valse saak aanhangig te maak.”
Die man is op aanklag van meineed in hegtenis geneem en moet binnekort in die hof verskyn.
Lieg sal daar gelieg word. Die lewe in hierdie land is so erg dan het mense nog tyd vir sulke snert!! Hoop die polisie en jou werkgewer werk jou gal.
Ha ha ha slim vang sy baas. Ai en daar “hap hy n bubble”. Kry vir jou!!!!