Man in sy voertuig doodgeskiet

Die toneel na die skietery (Fot:o: Medi Edge-nooddienste)

Die polisie is op die spoor van verdagtes wat Dinsdagoggend ʼn man in Doornpoort, noord van Pretoria, in sy voertuig doodgeskiet het.

Kapt. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, sê daar word beweer dat die man omstreeks 07:30 by die verkeerslig op die hoek van Dr. Swanepoel- en Amandelboomweg in Doornpoort stilgehou het toe ʼn ander voertuig langs hom stilgehou het.

“Toe die man vorentoe wou ry, het die mans in die voertuig langs hom skielik op hom losgebrand,” sê Makhubela.

Die man het aan sy skietwonde beswyk.

Die slagoffer se voertuig waarin hy geskiet is (Foto: Medi Edge-nooddienste)

Die verdagtes het na bewering in ʼn wit Ford Ranger-bakkie met ʼn vervalste nommerplaat (HR 95 PY GP) gery.

“Nog niemand is in verband met die skietery in hegtenis geneem nie.”

Michael Gough, woordvoerder van Medi-Edge-nooddienste, sê paramedici is kort ná die voorval na die toneel ontbied.

“Met paramedici se aankoms op die toneel het hulle die volwasse man ‘n entjie van sy voertuig aangetref. Hy het verskeie skietwonde opgedoen,” vertel Gough.

“Weens die aard van sy beserings is hy op die toneel dood verklaar.”

Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het bevestig dat verskeie paaie rondom die toneel gesluit was. ʼn Groot deel van Dr. Swanepoelweg is ná die voorval gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.