Man is nié dood weens leeubyt nie

Foto: Lion Tree Top Lodge, Facebook

Foto: Lion Tree Top Lodge, Facebook

Die departement van gesondheid in Mpumalanga het Donderdag bevestig Justice Qebekhula, wat verlede Woensdag deur ʼn leeu op ʼn plaas gebyt is, het nie weens komplikasies gesterf nie.

“Ons is geskok dat hy dood is weens ander komplikasies,” het West Mathewson, eienaar van Lion Tree Top Lodge, in ʼn verklaring gesê.

Maroela Media het vroeër berig Qebekhula en sy kollega het op ‘n plaas naby Hoedspruit in Limpopo hout bymekaargemaak toe ʼn leeu, wat uit Lion Tree Top Lodge ontsnap het, hom gebyt het.

“Ons leeus was nog nooit aggressief nie, ons maak hulle al groot vandat hulle vyf dae oud is,” het Mathewson verduidelik. “Ek het al saam met 2 000 persone langs die leeus gestap. Ek loop langs hulle, en hulle loop vrylik rond.”

Volgens Mathewson verseker Lion Tree Top Lodge die besoekers se veiligheid deur seker te maak die leeus se kampe is op standaard. Volgens hom het twee van die leeus uit die kamp ontsnap, ondanks ʼn elektriese heining en die nodige voorsorgmaatreëls.

Hy het bygevoeg een van die leeus het Qebekhula aangeval, terwyl die ander een doodstil bly staan het. “Justice kon saam met sy kollega wegstap, nadat hy ʼn nie-noodlottige sny op sy bobeen en bytwonde in sy bors opgedoen het.”

Qebekhula is daarna met ʼn helikopter na Rob Ferreira-hospitaal in Nelspruit, Mpumalanga geneem.

“Een van ons vennote by Lion Tree Top Lodge woon in Nelspruit en hy het Justice elke dag besoek. Hy het Saterdag berig Justice is sonder pyn en tevrede en sien uit daarna om huis toe te gaan,” het Mathewson bygevoeg. Qebekhula is egter Maandag dood verklaar by dieselfde hospitaal waar hy aangesterk het.

Die departement het Donderdag bevestig dat Qebekhula nie aan die beserings, wat hy opgedoen het toe die leeu hom gebyt het, beswyk het nie. Die departement het nie verdere besonderhede bekend gemaak nie.

“Ons sal alles in ons vermoë doen om seker te maak dat dit nie weer gebeur nie, en ons doen ʼn beroep op besoekers om nie beangs of skrikkerig te wees vir die leeus nie,” het Mathewson gesê. “Ons loop saam met hulle om besoekers op te lei en meer oor leeus in hul habitat te deel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Poppie ·

Ek kan nou al sê dat dit 10 teen 1 n kiem is wat hy in die hospitaal opgetel het. My skoonpa amper oorlede van n kiem na n klein operasie.

andrea van vuren ·

Pseudomonas. Dis ‘n kiem wat jy kry in vuil of nat wasbakke. Die persoon wat die wonde moes versorg het moontlik die kiem oorgedra. So ‘n wond genees moeilik indien ooit!

Amper dood ·

Ek kan daarvan getuig dat die omstandighede in daardie hospitaal is om van dood te gaan. Ek het myself na n dag maar ontslaan…. glo nie hulle het agter gekom ek is weg nie. Swak!

Liendempers ·

Mense, julle is skerp. Johnny ek het nou so lekker gelag vir jou aanmerking. Poppie, ons is laasjaar deur n nagmerrie met my pa wat ook n kiem in die hospitaal gekry. Privaat hospitaal nogal…..Dit was so amper of hy het dit nie gemaak nie. Hy is wel verlam en maak van n rolstoel gebruik nou.

Rosa ·

Ek het ook nou lekker gelag vir al die kommentaar. Ek het ook vir ‘n klein operasie gegaan, ook na ‘n privaat hospitasl. Was in intensief, het blykbaar ‘n kiem opgetel in die teater en drie weke later toe ek uit stap toe sê die dokters vir my dit is ‘n wonderwerk. Baie van my vriende het vir my gebid en ja, dit was ‘n wonderwerk. Ek het in daardie hospitaal so naby aan die Here gewees.

Ja nee ·

So gepraat van kieme. Ekt ook n kiem opgetel in n privvaat hospitaal van hulle vuil komberse een jaar ekt al my hare verloor agv daai kiem. Hospitale is uiters vuil en niks word daaraan gedoen nie! Ek sterf eerder by my huis as om in n hospitaal te gaan le dis in elkgeval goedkoper. Hospitale is net daar vir die liefde van die geld nie meer vir liefde vair die mens nie. Ek se maar net!

Leeu ·

Seker weer ‘n familielid wat gedink het hy of sy kan ‘n geldjie eis vir die man se dood.

Justice ·

Leeu wees dankbaar dat jy met al jou rykdom geseend is en nooit afhanklik van ‘n enigste broodwinner op `n plaas te moet wees wat nou onverklaarbaar dood is nie.

Topster ·

Ja nee ek stem saam kyk wie is die meederheid in hospitale wat daar werk.Dit gaan nie meer oor die liefde en trots nie dit gaan ek sal enige werk doen net vir daai pay Cheque aan die einde van die maand hulle het vrede of jy sterf of nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.