Man jaag glo teen meer as 240 km/h

ʼn Werktuigkundige is verlede week in hegtenis geneem na hy glo met ʼn kliënt se motorfiets op die N1 teen ʼn spoed van 247 km/h in die rigting van Bellville gejaag het.

Hy was een van vier persone wat verlede week deur die Stad Kaapstad se verkeersdepartement in hegtenis geneem is.

Dié werktuigkundige het verby ʼn beampte van die stad se sogenaamde Ghost Squad gejaag. Die beampte het hom toe agternagesit en van die pad af getrek. Hy is in hegtenis geneem vir roekelose en nalatige bestuur.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het gesê spoedoortredings het ten tyde van die afsonderingstydperk toegeneem weens die verkeer wat afgeneem het.

“Daar is geen verskoning vir sulke gedrag nie. Dié werktuigkundige het sy eie en ander padgebruikers se lewens in gevaar gestel,” sê Smith.

Die Stad Kaapstad se metropolisie en verkeersdepartemente het verlede week vier persone in hegtenis geneem, op ʼn voertuig beslag gelê en sowat 20 625 boetes opgelê waaronder 9 494 boetes vir die oortreding van die afsonderingsregulasies.

Die stad se metropolisie het tydens die afsondering in totaal 644 boetes opgelê vir verskillende verkeersoortredings. Sowat 506 boetes is ook opgelê vir persone wat versuim het om ten tyde van afsondering by die huis te bly en die afsonderingsregulasies na te kom. Twee persone is ook in hegtenis geneem vir die onwettige vervoer van alkohol.

ʼn Vier-en-dertigjarige verdagte is Sondag in hegtenis geneem vir die besit van dwelms nadat  dwelms in sy voertuig op die hoek van Voortrekker- en Karoostraat in Bellville gevind is. Polisiebeamptes het Saterdag tydens ʼn padblokkade op die R300 in Kaapstad 12 bottels bier van 1 liter elk in ʼn voertuig gevind. Twee mans is in verband hiermee in hegtenis geneem.

ʼn Vier-en-twintigjarige man is Vrydag op die N2 in hegtenis geneem vir dronkbestuur en vir die oortreding van die afsonderingsregulasies. Hy het glo ook ʼn polisiebeampte geklap terwyl hy hom ondervra het.

Polisiebeamptes het ook tydens ʼn padblokkade op die N7 in Kaapstad ʼn persoon in hegtenis geneem wat ʼn onwettige tydelike asielpermit in sy besit gehad het. Hy het eers geweier om enige persoonlike inligting vir die polisiebeamptes te gee. Hy is na die Milnerton-polisiestasie geneem.

Smith sê soos die afsonderingsregulasies verander het, het meer mense vrylik begin rondbeweeg. Dit het ook veroorsaak dat daar meer verkeer op die paaie is.

“Meer inwoners het ook begin kanse waag om die afsonderingsregulasies te oortree. Misdadigers het die geleentheid gebruik om wette te oortree. Die afsondering het almal beïnvloed en die aantal inhegtenisnemings en boetes is ʼn bewys dat nie almal ernstig is daaroor om veilig te bly nie,” het Smith gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Karlahari ·

Is dit onwettig om drank te vervoer as dit jou eie is van jou plaas na jou dorps huis of vice versa?

Kiepie ·

Volgens die regulasies is dit onwettig ja (ek stem nie noodwendig daarmee saam maar dit is). Gehoor van iemand wat beboet is omdat daar ‘n halwe bottel wyn in sy voertuig was toe hulle oppad was na hulle woonhuis in Kaapstad nadat hulle die oorspronklike lockdown periode by hulle strandhuis deurgebring het.

Cherokee ·

Weet jy dan nie daarvan dat die SAB gedreig het om miljoene liter bier uit te gooi as hulle dit nie sowat 500 meter na ‘n eie stoor fasiliteit kon skuif nie? Daar is toe maar toegegee.

twaalfboor ·

Die “Regulasie” sê jy mag nie alkohol van punt A na B vervoer nie. Dit sê niks van punt C na D toe nie.

Johanncb ·

Presies hóé vinnig moes die beampte jaag om die jaagduiwel in te haal?

Duck ·

Die ghost squad ry ook met groot motorfietse hier rond (Kaap) al Kawasaki 1400 en Honda’s (1300) hier gesien, daai goed hardloop gou gou 250 km/h sommer so in derde rat!

twaalfboor ·

247 km/h…… nog nie eers behoorlik in 3de rat gewees nie. Die man moes sekerlik afgeslek het, dis al hoe die metro hom kon vang. My opinie is dat die motorfiets ryer baie dom was. Jy as metro gaan my nie teen daai spoed (wat nog nie top spoed is nie) vang nie. Veral nie as ek verkeer kry om tussen deur te vleg nie.

James ·

Een vraag contradict jy jouself ” My opinie is dat die motorfiets ryer baie dom was”. “Jy as metro gaan my nie teen daai spoed (wat nog nie top spoed is nie) vang nie. Veral nie as ek verkeer kry om tussen deur te vleg nie” ????????? Maak nie regtig sin nie een hand se jy hy is dom, die ander hand se jy hulle sal jou nie vang nie mmmmmm?????

twaalfboor ·

As ek kon…… sou ek vir jou ñ prentjie geteken het ter illustrasie.

Francois ·

Dis baie maklik. Ons wil mos die wereld volg met Covic 19. Maak dan soos die ander lande. Vat sy lisensie permanent weg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.