Man jaag met gesteelde kar in skoolheining vas

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man is in Jabulani in Soweto in hegtenis geneem in verband met die besit van ʼn gesteelde motor, het die polisie in Gauteng Maandag gesê.

“Polisiebeamptes was Sondagaand besig met ʼn roetinepatrollie toe hulle die spoorsein van ʼn gesteelde motor opgemerk het,” het ao Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hulle het die motor gesien en toe hulle die bestuurder wou aftrek, het hy weggejaag.”

ʼn Hoëspoedjaagtog het gevolg en die bestuurder het uiteindelik beheer oor die motor verloor voordat hy in ʼn skool se heining vasgejaag het.

“Die 32-jarige verdagte was in die wrak vasgekeer,” het Makhubela bygevoeg. “Hy is in hegtenis geneem en sal binnekort in die Protea-landdroshof verskyn.” Die motor is glo vroeër vandeesmaand by die Linden-polisiestasie in Randburg as gesteel aangemeld.

Die man is een van 193 mense wat oor die naweek in Soweto in hegtenis geneem is. Ander mense is vir verskeie misdade soos seksuele oortredings, dronkbestuur en dwelmverwante misdade in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.