Man kan weer hoor danksy 3D-drukker, operasie

Prof. Mashudu Tshifularo en sy span aan die Universiteit van Pretoria Woensdag tydens die operasie in die Steve Biko Akademiese-hospitaal waar hy die wêreld se eerste inplanting gedoen het van gehoorbeentjies wat met ‘n 3D-drukker gemaak is. Foto: Jacques Nelles/UP

Die wêreld se eerste pasiënt wat ʼn inplanting van middeloorbeentjies ontvang het wat met ʼn 3D-drukker vervaardig is, se gehoor is reeds herstel.

Dit kom nadat prof. Mashudu Tshifularo en sy span aan die Universiteit van Pretoria Woensdag dié operasie in die Steve Biko Akademiese Hospitaal uitgevoer het.

Die gehoorbeentjies wat bestaan uit die hamer, aambeeld en stiebeuel is met ʼn driedimensionele drukker in titaan gedruk. Titaan is bioversoenbaar met die mens se liggaam.

Tshifularo het gesê hy het twee jaar gelede begin met navorsing hieroor. “Ons het gewerk aan die grootte, gewig, lengte – alles oor die beentjies, om presies uit te werk hoe ons dit moet druk.” Hy het oor en oor geoefen op kadawers tot hy die tegniek reggekry het.

Hy vertel hoewel elke mens se gehoorbeentjies verskil, is daar ʼn gemiddelde grootte. Die beentjies is ten volle ontwikkel en het klaar gegroei wanneer ʼn mens gebore word.

Die pasiënt het vyf jaar gelede sy gehoor in die een oor verloor weens trauma. Die tipe operasie is geskik vir mense wat gehoorverlies het weens skade aan dié beentjies, of kinders wat het gehoorverlies weens middeloorprobleme, of nadat infeksie in dié area hulle gehoor beïnvloed het. Dit is spesifiek geskik wanneer gehoorverlies weens geleidingsprobleme in die middeloor is.

Tshifularo het gesê die operasie het twee en ʼn halwe uur geduur en hulle het ʼn sny agter die oor gemaak en toe die nuwe gehoorbeentjies met ʼn instrument in plek geplaas. “Hy kon dadelik weer hoor, maar daar is soos gewoonlik swelling en ná sowat twee maande sal hy weer soos altyd kan hoor.”

Omdat die tegniek nuut is, moet hy nou met ʼn kliniese studie begin voordat dit vir almal gebruik kan word. Hy het gesê 30 mense gaan by so ʼn studie betrek word sodat die tegnieke verfyn kan word en dan hoop hulle om talle mense te help. “Baie mense kan nie hoor nie weens geleidingsprobleme in die oor.”

Dit is goedkoper om die gehoorbeentjies te druk as om vir mense gehoorstukke te gee wat dalk gehoor effens verbeter, het hy gesê. En daarvoor is daar by die hospitaal ʼn waglys van tot 1 000 mense. Talle mense ondervind gehoorverlies, ook wanneer hulle ouer raak.

“Hierdie is baie opwindend vir die land en vir pasiënte. Dit is ʼn eerste vir Suid-Afrika en die wêreld. Ons moet innoveer en planne maak om oplossing vir ons probleme te vind.”

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Griet ·

Sal ook graag wil weet. Ek is al 38 jaar doof in albei my ore

Nicolene Van Wyk ·

Middag. Ek sou graag wou uitvind of die operasie geskik is vir kinders wat doof geword het weens breinvliesontsteking.
Dis die situasie met my seun wat ook afgekeur is vir die “Kogleur inplanting” omrede die beentjies in sy oor verbrokkel en hy nie geskikte kandidaat was vir operasie nie.

Groete

Die Leeu ·

Dis fantasties dat mense op so ‘n manier gehelp kan word. Mag dit klinies ook ‘n sukses wees en dus toegelaat word om ontelbare mense mee te help om weer te kan hoor. Knap gedaan Prof. Tshifularo en span.

Maria ·

hou duim vas dit sal goed werk vir soorte gelyke mense vir toekoms.

wraggies ·

Veels geluk Prof en span, mag julle navorsing en innovasie derduisende mense weer laat hoor.

Sanet ·

Baie geluk prof! 👏👏
Darem iets possitiefs v Sa weer

Cherokee ·

Ag moenie maak asof ons nie ander rekords ook oortref nie! Ons is waarskynlik ook voor met tellermasien rooftogte en dies meer.

Samuel Botha ·

waar kan ek meer uitvind oor dit.Het regtig hulp nodig.Alby my ore is nou besig om slegter en slegter te raak.

Johann cb ·

Dit is fantastiese baanbrekerswerk! Hoeveel sou hierdie operasie ‘n ou, of jou medies, kos? Baie geluk Professor en dankie vir die positiewe inset!

Werner ·

Met wie kan ek in aanraking kom om deel te wees van die kliniese studie?

Amelia ·

Wonderlike nuus. Ek sou graag wil weet watse van het die man. Klink soos n uitlander. Dalk n rus?

Alida ·

Ai mense wens die Prof geluk en vergeet vir een keer van kleur of afkoms. Ek skaam my vir sommige lesers regtig!

O aarde ·

Die Prof en sy span is in dieselfde klas as Chris Barnard! Vatso! Uitstekend!

EC ·

Goeie nuus. Ek hoop rerig vir ‘n sukses verhaal. Baie mense se lewens sal positief beïnvloed word.

Angelique ·

Hoe absoluut fantasties is dit nie. God het hierdie dokters wonderlike gawes gegee. Oor ñ paar jaar kan my tienerseun hierdie operasie ondergaan, nadat hy sy gehoor in ongeluk verloor het. Lewensveranderende vooruitsig. Well done aan ons puik medisie.

Mooi Man.. ·

Knapgedaan proffie!?!
Ek is skepties maar glo aan wonderwerke..

Johan Oosthuizen ·

Ja, ja, ja. Ek praat gister met ‘n verpleegsuster oor die ding en sy vertel dat 30 jaar gelede, toe sy haar opleiding in ‘n neus- oor- keel hospitaal gekry het en sy sê toe dat die soort van operasie tóé al gedoen is. Sy het met haar eie oë op ‘n skerm gekyk hoe dit gedoen word. Twee ure later was ek by ‘n bekende oor, neus en keel spesialis na aanleiding van my eie gehoorverlies. Natuurlik wou ek weet van sy reaksie op die “EERSTE” in Suid-Afrika. Daar was ‘n snork van verontwaardiging: ” Man dis twak! Dit word lankal gedoen. Hierdie is net ‘n foefie om ‘n professor en die betrokke universiteit in die kalklig te bring. Die baanbrekerswerk is jare terug al gedoen en nou ploeg die betrokkenes met onbesonge navorsers en chirurge se kalwers.” Nou wonder ek of mense oral in die wêreld nie kopskuddend sit en lag nie. Nou sit ek en wonder. Wat is die volle waarheid.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.