Man in kapingsvideo dalk Vrydag ontslaan

SOG het die foto op sy Facebook-blad gelaai.

SOG het die foto op sy Facebook-blad gelaai.

Die man wat Dinsdagaand in die oprit van sy huis in Alberton deur kapers geskiet en gekaap is, gaan moontlik Vrydag uit die hospitaal ontslaan word.

Du Toit Lambrechts, eienaar van die veiligheidsmaatskappy Special Operations Group (SOG), het Donderdag aan Maroela Media gesê dat dit goed gaan met die slagoffer.

Hy is Dinsdagaand omstreeks 19:30 in South Crest gekaap. SOG het beeldmateriaal van die kaping op sy Facebook-blad gelaai. Dit wys hoe die eienaar van ‘n wit Volkswagen Polo uit sy erf ry en deur ‘n ander voertuig versper word. Die man ry vinnig terug in die erf in voor twee kapers uit die ander motor spring en na sy Polo hardloop. Die man is twee keer geskiet. Een van die kapers het die man deur die passasiersruit geskiet terwyl ‘n ander kaper hom deur die bestuurder se ruit geskiet het. Hy is in die linker- en regterarm geskiet en het ook ‘n wond aan sy bors opgedoen.

Volgens Lambrechts is die slagoffer se voertuig sowat twee ure ná die kaping teruggekry. Die kapers is nog soek. Die Alberton-polisie ondersoek die voorval.

Klik hier om die video te sien. WAARSKUWING: Die beeldmateriaal kan sensitiewe kykers ontstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.