Man kritiek ná aanval op kleinhoewe

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn 26-jarige man is in ʼn kritieke toestand na ʼn Gautengse hospitaal geneem nadat hy Donderdag in die vroeë oggendure in sy huis op ʼn kleinhoewe in die Muldersdrift-omgewing geskiet is.

“Die slagoffer het na bewering geslaap toe hy en sy vrou deur drie onbekende mans met vuurwapens oorval is,” het ao. Matome Masedi, polisiewoordvoerder, gesê. “Die verdagtes het glo die huis se deur oopgebreek, die man geskiet en met ʼn selfoon van die toneel gevlug.”

Nick Dollman, woordvoerder vir Netcare 911, het gesê paramedici is omstreeks 01:30 na die kleinhoewe naby die R114-pad in die Nooitgedacht-omgewing ontbied. “Volgens inligting van die toneel het die verdagtes die familie vasgebind en die pa geskiet. Die pa is verskeie kere geskiet en in ʼn kritieke toestand aangetref,” het Dollman gesê.

Paramedici het die man op die toneel behandel, aan ʼn ventilator gekoppel en na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir dringende mediese behandeling.

Die Muldersdrift-polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord en huisroof.

Lt.kol. Setlhare, die Muldersdrift-polisie se bevelvoerder, het die aanval veroordeel. Setlhare het ʼn beroep op die publiek gedoen om die polisie in hul ondersoek by te staan. Mense met inligting word versoek om die Muldersdrift-polisie by 011 952 4600 of Stop Misdaad by 0860 010 111 te bel.

Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het aan Maroela Media gesê dié was die 389ste aanval op ʼn plaas of ʼn kleinhoewe vanjaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.