Man kritiek ná motor aan die brand gesteek is

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man is in ʼn kritieke toestand nadat sy motor vroeg Dinsdagoggend in Kaapstad aan die brand gesteek is terwyl hy in die motor was.

Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is omstreeks 08:00 na die toneel in Wesleystraat in Tuine ontbied. Brandweerbeamptes het die brand geblus en paramedici kon die man, vermoedelik in sy 50s, uit die motor haal. “Die man se toestand was kritiek en hy is dadelik na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas,” het sy gesê.

Konst. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê die identiteit van die man is nog nie vasgestel nie. “Ons kan bevestig dat iemand die motor met hom binne-in aan die brand gesteek het, maar die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek,” het sy gesê.

ʼn Saak van poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging is aanhangig gemaak. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.