Maj. Mack Mngomezulu, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die man het saam met ander gaste voor die hotel stilgehou en was besig om hul bagasie af te laai toe ʼn Audi langs hulle gestop het. “Drie gewapende rowers het uitgespring, hulle met vuurwapens gedreig en hul bagasie gesteel,” het Mngomezulu gesê. “Net voordat hulle gevlug het, het hulle ʼn skoot afgevuur en die man is in die kop gewond.”
Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24 wat op die toneel was, was die man in ʼn kritieke toestand met paramedici se aankoms, maar steeds by sy volle bewussyn. Nadat paramedici hom gestabiliseer het, is hy na die Muelmed-hospitaal gehaas.
Mngomezulu het gesê ʼn saak van gewapende roof word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.