Man kritiek ná skietery in Durban

Die toneel van ‘n skietery in Westville, Durban. (Foto: Verskaf)

ʼn Man is kritiek beseer nadat ʼn skietery Vrydag in Westville, Durban, uitgebreek het. Die man is na bewering geskiet terwyl hy en ʼn ander man met ʼn voertuig gery het.

Die skietery het net ná 15:00 op Buckingham Terrace plaasgevind.

Volgens Garrith Jamieson, direkteur van Rescue Care, het dié ambulansdiens Vrydag op die toneel aangekom nadat polisie dit afgesper het. “ʼn Man, wat na bewering in sy 20’s is, het verskeie skietwonde aan sy lyf opgedoen. Paramedici het hom op die toneel ondersoek en gevorderde lewensondersteuning toegedien,” sê Jamieson. Hierna is die man na ʼn nabygeleë hospitaal vir dringende mediese hulp gehaas.

“Nog ʼn man wat saam met die beseerde in die voertuig was, het geringe vleeswonde opgedoen en is op die toneel behandel,” sê Jamieson.

Die gebeure wat gelei het tot die voorval is nog onbekend, maar die Durbanse polisie ondersoek die skietery.

Intussen is die vyfjarige wat deur ʼn dwaalkoeël op die Kaapse vlakte gedood is, Saterdag begrawe.

Valentino Christiano Grootetjie is kort voor Kersfees oorlede nadat ʼn dwaalkoeël hom in die kop getref het terwyl hy in sy ouerhuis was. Hy is Saterdag by sy skool in Lavender Hill in die Wes-Kaap begrawe.

Twee verdagtes, onderskeidelik 24 en 29 jaar oud, is in verband met dié voorvalle in hegtenis geneem en het Vrydag in die hof verskyn. Hulle word aangekla van moord en poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.