Man kritiek ná skietery in kusdorp

Die Volkswagen Amarok en Mercedes-Benz was albei oortrek met koeëlgate. (Foto: Emer-G-Med)

Twee mans is Vrydag met skietwonde in ’n Volkswagen Amarok en ʼn Mercedes-Benz in Amanzimtoti, KwaZulu-Natal, aangetref.

Die voertuie was oortrek met koeëlgate.

Luidens ’n verklaring deur Emer-G-Med-nooddiens is paramedici en die veiligheidsmaatskappy ET Rapid Response vroegoggend na dié toneel in Umdoniweg ontbied.

“Met ons aankoms op die toneel het ons die geparkeerde motors vol koeëlgate buite ’n woonplek aangetref.

“’n Man van sowat 30 jaar oud het in die Mercedes-Benz gesit. Hy het ’n skietwond aan die kop gehad.”

Nooddienswerkers het die man van gevorderde lewensondersteuning voorsien voordat hy aan ’n meganiese ventilator gekoppel en na ’n nabygeleë hospitaal vervoer is.

“Die tweede man is vir matige skietwonde behandel en met ʼn private ambulans na ʼn hospitaal geneem.”

Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê ʼn saak van poging tot moord word deur die Amanzimtoti-polisie ondersoek.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

“Die verdagtes het ná die voorval in hul wegkommotor gevlug.

“Die motief en omstandighede wat tot die skietery gelei het, is nie in dié stadium bekend nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JM ·

In hierdie land weet jy nie of jy sonder ‘n koeël in jou kop by die huis gaan kom nie. Dinge ruk waaragtig handuit!!

SomeOne ·

en jy mag jouself nie verdedig nie, doen jy dit, sit jy in die tronk

Jan Seerot ·

Verder sal ek nou nie die woord “oortrek” gebruik as dit blyk dat daar sewe koeëlgate in die venster aan die bestuurderskant is nie, en geen gate in die bakwerk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.