Man kritiek ná tref-en-trap

Dudley Cole saam met sy vrou Ilze en hulle babaseun, Rogan. (Foto: Facebook / My Brother)

’n 35-jarige man is in ’n koma in die Milpark-hospitaal nadat hy Saterdag vir die tweede keer die slagoffer van ’n tref-en-trap-ongeluk in Voortrekkerstraat in Roodepoort was.

Die ongeluk het boonop op presies dieselfde plek as die eerste een 12 jaar gelede gebeur.

Dudley Cole was Saterdag in ’n silwer Kia Rio op pad huis toe, glo om ’n bottel vir sy babaseun Rogan te vat, toe ʼn ander voertuig in hom vasgery en weggejaag het. Cole het gevolglik beheer oor sy motor verloor en ernstige beserings opgedoen. Hy is per noodhelikopter na die hospitaal vervoer waar hy steeds in ’n bedenklike toestand is.

Sy suster, Candice, sê haar broer moes Dinsdagmiddag ’n noodoperasie ondergaan om die drukking op sy brein te verlig.

Benewens breinbeserings het sy long platgeval en het hy ook verskeie bene gebreek.

ʼn Onbekende voertuig het Saterdag in Dudley Cole se motor vasgery en toe weggejaag. (Foto: Facebook / My Brother)

“Ons is baie bekommerd. Dit vreet ook aan ons dat die persoon wat vir die ongeluk verantwoordelik is, nog nie opgespoor is nie.

“Dis erg om te dink dat hulle hom net daar gelaat het.”

Volgens Candice is die persoon wat haar broer 12 jaar gelede in Ontdekkersweg, wat later Voortrekkerstraat word, van sy motorfiets af gery het, ook nog nooit opgespoor is nie.

Cole was toe ook in ’n koma en het soortgelyke beserings opgedoen.

Cole se familie, onder wie sy vrou Ilze, soek sedertdien onverpoos na antwoorde en sê dat die omstandighede wat tot die jongste ongeluk gelei het, nog onduidelik is.

“Ons sukkel geweldig om beeldmateriaal in die hande te kry. Soveel kameras, by ondernemings en op die pad, is buite werking.

“Dit kan mos nie so werk nie.”

Volgens Candice is die beeldmateriaal wat hulle wél kon opspoor nie voldoende nie, aangesien die maak van die voertuig nie geïdentifiseer kan word nie.

“Ons kan wel sien dit was ’n silwer, oënskynlike ligte voertuig.”

Sy sê voorts dat mense ook in sommige gevalle onbehulpsaam en pessimisties is, wat tot verdere moedeloosheid bydra.

“Mense moet verstaan dat ek nie self met my broer kan praat nie. Ons maak op beeldmateriaal en mense se hulp staat om antwoorde te kry.

“Ek kan nie glo dat ons wéér hierdie pad stap nie.”

Candice doen ’n beroep op die publiek om met enige inligting oor die gebeure vorendag te kom.

Die familie het ook ’n Facebook-blad vir Cole gestig.

“Ek pleit ook dat mense asseblief moet stilhou en help wanneer so iets voor hulle oë gebeur.”

Die ongeluk is by die polisie aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

ChrisR ·

So jammer om dit hoor……Dudley een van die vriendelikste mense wat ek ken……ek bid vir jou mater.

Impartial ·

I really hope evidence to identify and locate the responsible person will be found. Such an inhumane act! I pray for his fast recovery.

Nie Verbaas ·

Sulke goed maak mens woedend. Ek hoop hy herstel vinnig en dat hulle die persoon wat dit veroorsaak het kry en behoorlik aan die pen laat ry.

ES ·

Sjoe, praat van toeval! Sterkte aan sy gesin en familie. Iewers moes iemand iets gesien het.

Misky ·

Daai kar moes met ‘n hengse spoed gejaag het as mens na die wrak kyk. Amper niks van sy kar oor nie.

SomeOne ·

hulle praat van ‘n ligte kar, is dit nou kleur of gewig, indien dit ‘n ligte (gewig) kar moes wees, is dit iewers en “baie” stukkend

Helene ·

Daardie ander motor het ook skade, miskien uit daardie hoek probeer opspoor.

Sêmanet ·

Spoed was hier ter sprake. As jy sien hoe lyk hierdie arme man se kar, kan jy sien dit was ‘n bitter harde slag. Net spoed kan dit veroorsaak. Tien teen een hoekom die ander een weggejaag het. Geweet hy is skuldig. Hoekom moet die onskuldiges altyd seerkry, en nie die paloekas wat die ongeluk veroorsaak nie. Ek weet mens mag nie wens en oordeel nie, maar hoekom kan hulle met letterlik “moord” wegkom?

SomeOne ·

dit lyk of die ongeluk gebeur het toe dit lig (sonskyn) was, daar moes iemand wees wat iets gesien of gehoor het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.