Man kritiek ná tref-en-trap by Comrades

Johan Doubell. Foto: Facebook

ʼn Man wat Sondag tydens ʼn tref-en-trap-ongeluk raakgery is terwyl hy by die Comrades-marathon as vrywilliger gewerk het, is tans in ʼn kritieke toestand in ʼn hospitaal in Pietermaritzburg.

Johan Doubell (51), ʼn produksiebestuurder vir ʼn chemikalieë-maatskappy, het by ʼn waterpunt in Ashburton gewerk en was vroeg Sondagoggend besig om die waterpunt op te stel, toe hy deur ʼn ligblou bakkie getref is. Die bestuurder het onmiddellik, sonder om stil te hou, van die toneel gevlug.

Erika Kapp, Doubell se verloofde, het aan Maroela Media gesê sy was twee treë weg van Doubell toe die voorval gebeur het. “Ek was besig om ʼn boks uit te pak toe ek net ʼn harde slag gehoor het. Toe ek omdraai, het Johan op die grond gelê en ek het net gesien hoe die bakkie wegry.”

Volgens Kapp was die paaie in die gebied reeds afgesper en was daar talle verkeersbeamptes op die toneel, maar het die bakkie moontlik van ʼn grondpad se rigting in die afgesperde gebied ingekom. Die presiese omstandighede van die voorval word nog ondersoek.

Kapp sê ʼn polisiebeampte was onmiddellik op die toneel en het begin om noodhulp op Doubell toe te pas en ʼn ambulans was minute later ook daar. “Johan was direk ná die ongeluk nog by sy bewussyn, maar hy was in verskriklike pyn. Hy het gesê hy kan nie sy bene voel nie en ek het gedink sy rug is dalk gebreek,” sê Kapp.

Doubell is na ʼn hospitaal gehaas en word tans in die waakeenheid van die St. Anne-hospitaal behandel. Hy het ʼn jaar gelede ʼn knievervanging in sy regterbeen gehad en dié knie het toe die bakkie hom tref in vyf stukke gebreek. Doubell se linkerbeen is ook gebreek, sy regteroogbank is gekraak, sy wangbeen is gebreek, van sy ribbes is gebreek en een van sy longe het platgeval.

“Hy word tans onder verdowing gehou omdat hy so baie breuke het. Die dokters wil nie hê hy moet baie beweeg nie en hy is op morfien vir die pyn,” sê Kapp. “Hy gaan vandag teater toe waar hulle sy regterbeen sal opereer en ʼn pen in die regterbobeen sit. Die dokters wil nou alles in hul vermoë doen om sy been te red – die moontlikheid bestaan dat hulle die been sal moet amputeer as dit nie gered kan word nie.”

Kapp sê Doubell moet ook geopereer word om die skade aan sy oog te probeer herstel, maar weens sy asemhalingsprobleme kan hy nie lank genoeg onder narkose wees sodat aan die been én die oog tydens een operasie gewerk kan word nie. Hy sal na verwagting later die week weer teater toe geneem moet word.

“Dit was verskriklik om daar te wees en te sien hoe dit gebeur. Johan was net Donderdag by die dokter wat weer na sy knie gekyk het en gesê het sy knie lyk nou baie goed en het pragtig herstel. En daar word sy knie net so weer in stukke verbrysel.”

Volgens Kapp ondersoek die polisie ʼn saak van roekelose en nalatige bestuur. Maroela Media wag op kommentaar van die polisie.

Doubell se vriende het intussen ʼn geldinsameling van stapel gestuur om te help om sy mediese onkoste te dek. Hulle hoop om R100 000 in te samel om Doubell te help. Teen Woensdagmiddag is net meer as R3 500 ingesamel. Vir meer inligting besoek die Back a Buddy-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Zettie ·

Hoe tragies. Ek kan nie dink dat die oortreder saam met sy/haar gewete kan saamleef nie. Baie sterkte met die herstelproses. Ek hoop als werk op die end goed uit.

Kannaland ·

Baie sterkte met die herstel ek ek hoop die nodige fondse kom in. Dit behoort baie maklik te wees vir n goeie speurder om die bakkiebestuurder op te spoor wantas die bakkie vannad n sypad grondpad inbeweeg het kan hulle maar net in die plaaslike area rondvra en kanse is goed dat die bestuurder gou vasgetrek gaan word.

Henk ·

My vraag – wat is die “spirit” van doe Comrades marathon? Hoe gou gaan atletiekklubs, borge en atlete help om hierdie slagoffer se fondse in te samel?

Devans ·

Agree completely Comrades should be approached Surely they must have some kind of liability insurance maybe
Praying for his healing

marous ·

Verskriklik ! Die organiseerders en borge moet hierdie mense bystaan . Daar moet ‘n saak van poging tot moord ondersoek word!

Piet Pille ·

Stem heelhartig saam , organiseerders en borge moet geldelik bydra aan sy mediese onkoste. Weereens ‘n geval van ‘n ” bestuurder” wat kortpad uit een van die sy paaie gekies het. Hoop van harte hy word gevang.

Versekering ·

Beslis ja, en organiseerders van sulke byeenkomste wat op gevaarlike paaie gebeur moet ook die nodige versekering uitneem.

Dianne ·

Die bestuurder het homself aan die polisie oorhandig Maandag al. Die gereg sal nou moet oorneem.

Annie ·

Hy het homelf oorhandig – 2 dae na die tyd – was seker onder die invloed gewees dit is hoekom hy weggejaag het – hy moet aangekla word en moet alle regsonkostes en hospitaal onkostes ook betaal. Hulle mos hom summier toegesluit het nie laat los loop het nie. As dit met ‘n familie lid van jou gebeur het wat sou jou reaksie dan gewees het.

Riana ·

Hoop hy is gou weer op die been. Ten spyte vd slegte nuus, het hy ‘n great t-hemp aan… dis waar… legends is in 1966 gebore… haha ek is ook een! Sterke ou legend!

Yolanda Degenaar ·

As elke hardloper wat in geskryf het net R100 kan skenk (aangesien daar 21 500 inskrywings was) en die Comrades Committee ook bedrag kan skenk behoort hulle ‘n goeie bedrag vir hom kan skenk.

Theresa ·

Vreeslik! Hoop regtig herstel sal plaasvind – wat ‘n terugslag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.