Man kritiek ná Uberdrywer hom glo opsetlik raakry

Argieffoto

ʼn Man is in ʼn kritieke toestand in ʼn Pretoriase hospitaal nadat hy na bewering Sondag in die vroeë oggendure deur ʼn Uberbestuurder raakgery is.

Beyers Serfontein (45) is Sondagoggend in John Vorster-rylaan in Centurion raakgery ná ʼn beweerde onderonsie met ʼn Uberbestuurder.

Times Live berig Serfontein en sy verloofde het Saterdagaand by Leon Botha, ʼn familielid, in Centurion gaan kuier om die rugby te kyk waarna die paartjie omstreeks 02:00 ʼn Uber bestel het om hulle huis toe te neem.

Botha het aan Times Live gesê hy het met die Uberbestuurder gepraat en alles was in dié stadium nog pluis toe die paartjie in die Uber huiswaarts keer.

Volgens Botha het die Uberbestuurder egter onverskillig gery waarna Serfontein die bestuurder gemaan het om van die pad af te trek. Serfontein wou glo ʼn ander Uber bestel.

Die paartjie het op John Vorster-rylaan uit die motor geklim waarna Serfontein die bestuurder gevra het om die kattebak oop te maak sodat hy sy koelboks kon uithaal. Die bestuurder het egter voet in die hoek gesit waarna Serfontein agterna gehardloop het.

Volgens berigte het die bestuurder daarna ʼn u-draai gemaak en vir Serfontein raakgery. Die bestuurder het daarna op die vlug geslaan.

Serfontein het sy arm, been en ribbes tydens die voorval gebreek. Hy het ook ernstige beserings aan sy kop opgedoen.

ʼn Woordvoerder van Uber het die voorval aan Maroela Media bevestig.

“Wat beskryf word, is baie ontstellend. Ons harte en gedagtes gaan uit na die kliënt en die familie wat deur hierdie voorval geraak word. In só ʼn geval verwyder ons dadelik ʼn bestuurder se toegang [tot die Uber-app] terwyl ons ondersoek instel en die plaaslike owerhede in hul ondersoek ten volle ondersteun.”

Volgens die woordvoerder is dié soort gedrag ʼn duidelike skending van Uber se gemeenskapsriglyne. Die woordvoerder het kliënte gevolglik aangespoor om enige wangedrag deur ʼn Uberbestuurder op die Ubertoepassing aan te meld.

Die polisie kon nie in dié stadium meer inligting rakende die voorval verskaf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

jannie ·

Dis hoekom ek maar eerder self ry……ek hou my oe net mooi groot oop…..

Alida ·

Ja dit is baie tragies. Maar het iemand al die bestuurder ondervra. Enige saak het 2 kante. 2.00 in die oggend na n rugby wedstryd is n ou maar slim en sterk.

Blondie ·

Jammer maar n mens maak nie n u draai en gaan ry iemand om nie. Ek gee nie om wat jou kant dan is nie

Anine ·

Beyers is ‘n gentle giant. Kan nie iemand seer maak of sleg sê. Sy meisie het ook bevestig, hy het die bestuurder mooi gevra om te stop.

ken nie ·

Alida, as jy nie die persoon ken nie moenie aannames maak nie asb. Die man se integriteit kan nie deur mense wat hom nie eers ken in twyfel getrek word nie.

Iemand ·

Ja Alida, maak nie saak wat iemand doen om jou humeur te laat opvlam nie, jy moenie agresief optree nie, en jy moet hul veral nie seermaak nie.

jaco ·

toe uber begin het, was dit n diens waar die drywer sy eie motor gebruik. winste word dus gedeel deur NET die drywer en Uber se hoofkantoor. dit het die tariewe goedkoper gemaak as dié van taxi en shuttle besighede,
taxi en shuttle besighede het gesien hulle verloor klante en geld en spring toe ook op die uber bandwagon. Maar die tariewe bly toe uber se lae tariewe, so wie ly daaronder: die drywers van die taxis en die shuttles. Uber moes NOOIT hierdie besighede toegelaat het nie. ek was in die shuttle bedryf vir 4 jaar en ek het gesien wat gebeur. En die enkeles wat ek nog in daardie bedryf ken, vertel my van skofte van tot 48 uur wakker bly in die hoop dat daar werk sal inkom.

Koos de Meyer. ·

Al het die Man gekuier gee dit nie die Uber bestuurder die reg om onverskillig te ry nie. Daar was ook al meer kere met Uber bestuurders probleme.

Joe ·

Stem saam, ek verkies eerder gewone taxi. Alida- as my seuns gaan kuier los almal hul voertuie by die huis en gebruik taxi. Doen dit al jare en nog nooit issues gehad nie.

Anine Pieterse ·

Dankie vir almal se omgee. Beyers het so lekker by my ma hulle gekuier, nadat hulle rerig mekaar lanklaas gesien het. Dankie vir almal se gebede!!!

Petro ·

Sal nooit in my kewe in ‘n Uber klim nie. Slaap dan eerder op die bank…. of wag… Moenie jouself kapabel drink nie… Net ‘n gedagte…

Mary ·

Jy’s reg dat die persoon slim en sterk was. Slim en sterk genoeg om te besef hy moet nie self bestuur nie. Jy ken sekerlik moeilikheidmakers as jy so gou sulke afleidings kan maak. Uber is gereeld in die spervuur oor swak karakters wat kliënte veilug moet besorg

Drankie ·

net vir die helfte van die prys en hulle bring ons kinders wat meer as een drankie gedrink het (ja wat oor 21 is) veilig tuis in die aande, .. en diegene wat se jy moet nie drink nie, ek glo jy is sonder enige sonde . ten minste ry ons kinders uber en kom veilig tuis WANT HULLE IS VERANTWOORDELIK na twee drankies.

GP ·

Beyers. Baie sterkte en spoedige herstel. Mens dink nie om die verantwoordelike ding te doen en ander in ag te neem, sal so uitdraai nie. Sterkte aan almal wie geraak word hierdeur..

lee ·

As vrou is ek werklik só bang vir Uber dat EK sommer ‘n U-draai sal maak.

En tog is daar mense wat dit gereeld gebruik – hopenlik sonder voorvalle of insidente.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.