Man kritiek ná vuiste klap buite restaurant

Die toneel buite die restaurant. (Foto: ER24)

ʼn Man het ernstige beserings opgedoen toe hy Vrydag in die vroeë oggendure glo deur drie mans buite ʼn restaurant in Vanderbijlpark in Gauteng aangerand is.

Verskeie motors is ook tydens dié voorval beskadig.

Sers. Getrude Makhale, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê dat ʼn bakleiery tussen vier mans omstreeks 02:15 in die restaurant ontstaan het waarna twee van die vier na hulle voertuig buite in die parkeerarea gestap het. Die ander twee mans het hulle glo agterna gesit waarna ʼn vuisgeveg in die parkeerarea ontstaan het.

Een van die mans het ernstige beserings in die onderonsie opgedoen. “Hy het gevlug vir sy lewe terwyl die ander drie in ʼn motor geklim het. Dit is toé dat hulle sewe motors in die parkeerarea gestamp het,” vertel Makhale.

Die polisie is na die toneel ontbied.

Twee van die mans, in hul vroeë 20’s, is op die toneel in hegtenis geneem. Die derde man het op die vlug geslaan. “Dit is nie duidelik of hy die een is wat bestuur het en al die motors gestamp het nie,” het Makhale gesê.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê nooddienste is omstreeks 02:20 na die toneel in Hendrik van Eckweg ontbied. By hul aankoms op die toneel het hulle twee petroljoggies aangetref wat ʼn man op die sypaadjie probeer help het.

Die man, vermoedelik in sy 30’s, het ernstige beserings opgedoen en was in ʼn kritieke toestand. Die man is op die toneel behandel waarna hy na ʼn hospitaal gehaas is, het Meiring gesê.

Nog twee mans op die toneel het ligte beserings opgedoen. Dié mans het mediese behandeling van die hand gewys en is aan die toepaslike owerhede oorgegee, het hy gesê.

Die polisie ondersoek ʼn saak van kwaadwillige beskadiging van eiendom. Volgens Makhale het niemand nog na vore gekom om ʼn saak van aanranding by die polisie aanhangig te maak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Yolanda ·

Ek kan net raai watter plek dit is. Was 2 keer daar. En elke keer was daar moeilikheid. Nee wat en dis altyd die mense wat nie hul drank kan hanteer nie. Bly maar eerder weg daar!

Anoniem ·

Jy weet toe ek die opskrif sien toe dink klaar aan Vanderbijlpark. Ek self is n ou Vanderbijlparker en in my jong dae was dit nou maar so die manne het mekaar gevat en hard gevat maar selde ,bitter selde sou daar twee of meer manne was wat een ou pakslae gegee het. Sies man as jy n man is dan baklei jy man teen man en as die ander ou nie wil baklei dan draai jy om en loop weg. Bakleiery is maar vieslik maar ongelukkig gebeur dit ook dat dit party keer nie afgewend kan word nie.

Annamarie Olivier ·

Brandewyn het nie brieke nie.
Ons waardes in Suid Afrika is weg ons ontaard en versleg al hoe meer

Neels ·

Ja en cheap wyn verdra nie onteg nie vernamlik as jy dit saammet aap twak vat

Dries du Toit ·

Ek het daar groot geword. Wat n lekker plek gewees. Nou is ek liewer n sussie

Nico K ·

Leer die mense nie. Besef hulle nie watse groot moeilikheid hulle vir hulself maak nie.

Stef ·

Hierdie het plaasgevind by MCafe. Dit is nie van ons generasie wat daar betrokke was nie. Lees die Vaalweekblad se Facebook page en dan kan julle n mening lig.

IK ·

Wat wil jy Pieta, nou eintlik sê? Wat my betref het generasie meer te doene met opvoeding as ouderdom.

Cherokee ·

Die berig sê ‘twee mans het na hul kar gestap terwyl twee ander hulle gevolg het en toe looi hulle mekaar.’ Elders sê die berig ‘een man het vir sy lewe gevlug terwyl die ander drie in ‘n kar geklim het en ‘bump cars’ gespeel het’.
Dit is dus onduidelik of dit groepe van 1 & 3 of 2 & 2 was.

Poppie ·

Ek het presies dieselfde gedink. 3 het gevlug in n kar. Petroljoggies het 1 gehelp. Nog 2 het ligte beserings opgedoen, 2 in hegtenis geneem, 1 gevlug. Die 2 wat lig beseer is, is dit die wat gevlug het?

ChrisE ·

Die Vuildriehoek is nie vir sissies nie. Geen openbare plek is deesdae lyk my meer vir sissies nie. In my losloop dae is jy gepiets as jy moeilikheid gemaak het. Jy is nie aangeval soos ‘n trop hiëenas of wildehonde dit sou doen nie. Deesdae steek hulle jou met messe of skiet jou sommer. Ek dink dwelms speel ook ‘n groot rol. Al wie ons geslag deesdae pak gee is mammie wanneer sy sê, sy wil huistoe. Jy klim maar in en ry saam.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.