Man kry lewenslank vir moord op voormalige vriendin

hof-hamer

Argieffoto

Lebogang Mofokeng is Dinsdag lewenslange tronkstraf in die rondgaande hof in Palm Ridge aan die Oos-Rand opgelê vir die moord op sy voormalige vriendin, Jabulile Nhlapo.

Mofokeng het Nhlapo, wat pas vir ʼn graad in opvoedkunde by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) ingeskryf het, in Mei verlede jaar by ’n studente-kommune in Vanderbijlpark in Gauteng doodgeskiet.

Sy was 21 jaar oud.

Regter Herman Broodryk het Mofokeng gister tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op   Nhlapo, vyf jaar tronkstraf vir die steel van sy pa se vuurwapen, vier jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie asook ’n verdere 18 maande tronkstraf omdat die beskuldigde onbevoeg was om ’n vuurwapen te gebruik.

Nhlapo is destyds in ’n plas bloed in die kommune aangetref met ’n enkele skietwond aan haar kop.

Sy was besig met ’n internskap in menslike hulpbronne by die  Emfuleni-munisipaliteit.

Mofokeng se verdediging het aanvanklik aangevoer dat hy Nhlapo nie doelbewus wou doodmaak nie.  Hy beweer dat die moord gepleeg is ná ’n bakleiery tussen hom en sy voormalige vriendin ontstaan het. Hy het ook gesê hy wou Nhlapo se nuwe kêrel net “afskrik”.

“Geweld teen vroue is endemies in hierdie land. Dit is die howe se plig om swaarder vonnisse op te lê in belang van die samelewing en die aard en erns van die misdryf,” het Broodryk het gedurende vonnisoplegging gesê.

Die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid het die vonnis verwelkom. “Niemand het die reg om vroue vir die geringste rede te misbruik en dood te maak nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

n Vrou ·

Baie goeie straf wat hy gekry het, maar intussen kry verkragters nie swaar vonnisse nie. So hy kom uit en doen dit weer, en weer.
Moet hul nie ook lewenslange vonnisse kry nie

lh ·

BAIE dankie Regter Herman Broodryk! my innige meegevoel aan aan Jabu se gesin . . .

marous ·

Met respek regter , geweld teen mans en kinders moet in dieselfde lig gesien word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.