Man kry lewenslank vir politieke moord

hof-hamer

(Argieffoto)

ʼn Man wat verbind word met die moord op ʼn raadslid van die Inkatha Vryheidsparty (IVP) is Maandag tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Thando Chamane is saam met nog ʼn verdagte, Khumkani Gumede, in hegtenis geneem vir die moord op Mfanzo Nzuza (44).

Nzuza is in April 2019 by sy huis in KwaMambulu digby Kranskop in KwaZulu-Natal doodgeskiet. Nzuza was sedert 2016 ʼn IVP-raadslid by die Maphumulo-munisipaliteit en ʼn wykskomiteelid van 2011 tot 2016.

Brig. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, sê die polisie se politieke taakspan in KwaZulu-Natal het Gumede aanvanklik in Kranskop in hegtenis geneem. Hy is toe vasgetrek vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Die 9 mm-pistool is vir ballistiese toetse gestuur en toe met die moord op Nzuza verbind.

Chamane is daarna in Orange Farm in Gauteng aangekeer.

“Gumede en Chamane het saam in die hof verskyn en albei se borgtogaansoeke is teengestaan sodat die ondersoekspan hul ondersoeke kon afhandel,” sê Naidoo.

Chamane is skuldig bevind op aanklag van moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Hy is ’n lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die moord, 13 jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en vier jaar vir die onwettige besit van ammunisie.

Gumede is skuldig bevind aan die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, waarvoor hy onderskeidelik tot 13 en vier jaar tronkstraf gevonnis is.

Gumede is op die aanklag van moord vrygespreek.

Die bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Chamane se swaar vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.