Man kry tog lewenslank (vir verkragting) ná vryspreking van moord

Ntokozo Khulekani Zikhali (Foto: africanrightsadvocacy/Twitter)

Die man wat enkele dae gelede vrygespreek is van die moord op klein Bokgabo Poo, is Donderdag lewenslange tronkstraf opgelê vir die verkragting en ontvoering van ’n ander kind.

Die kind (9) is in 2021 deur Ntokozo Khulekani Zikhali verkrag.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê dié kind het op 8 Augustus 2021 saam met haar maats in ’n parkie in Tamboville gespeel toe Zikhali haar genader, opgetel en na ’n dam geneem het, waar hy haar verkrag en weggehardloop het.

Zikhali is later deur middel van DNS-bewyse met dié oortreding verbind en het eindelik skuld beken.

Die staatsaanklaer het in dié saak aangevoer dat Zikhali geen berou getoon het nie en slegs ’n bekentenis afgelê het omdat die staat oorweldigende bewyse teen hom gehad het.

Zikhali het in die saak van Bokgabo (4) óók skuld beken. Die rondgaande hooggeregshof in Brakpan het egter dié bekentenis verwerp en Zikhali Maandag onskuldig bevind aan die moord op Bokgabo.

Klein Bokgabo Poo. (Foto: Twitter)

Bokgabo het in Oktober verlede jaar in Wattville, Benoni, vermis geraak. Haar liggaampie is later in Tamboville gevind. Zikhali was in daardie stadium uit op borgtog in die verkragtingsaak.

Maroela Media het vroeër berig ’n vrou was besig om haar erf te vee, toe sy ’n been in die grond opgemerk en die owerhede ontbied het. Nog ’n liggaamsdeel is daarna gevind en die res van die geskende oorskot in ’n vlak graf in ’n oop veld sowat 800 m daarvandaan.

Kringtelevisiebeeldmateriaal van ’n nabygeleë taverne het later gewys hoe Bokgabo op die dag van haar verdwyning saam met Zikhali stap.

Die hof het egter eindelik bevind dat Zikhali gedwing is om skuld in dié saak te beken en dat daar nie bo redelike twyfel bewys kon word dat Zikhali die een was wat klein Bokgabo vermoor het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Charles ·

As hy skuldig is van die een, dan is hy skuldig van die… Aaag wat help dit!!

ES ·

Tronkstraf is nie goed genoeg vir hom nie… daar is ‘n beter plek vir hom…

Amelia ·

die regstelsel is n grap magtag al;mal kry borg en moor en verkrag net verder

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.