Man kry tronkstraf ná tref-en-trap

Dr. Koos Roux (regs) en sy seun Kobus.

Die motoris wat dr. Koos Roux (59) in ʼn tref-en-trap-ongeluk in Mei 2013 doodgery het, is tot tronkstraf gevonnis.

Volgens die Pedal Power Association (PPA) is Geoffrey Merrick in die Kuilsrivier-landdroshof tot drie jaar tronkstraf gevonnis en sy rybewys vir ses maande opgeskort. “Die landdros het gesê die beskuldigde was baie nalatig, asook dat hy van die toneel gevlug en die oorledene en sy seun aan hul eie lot oorgelaat het.”

IOL berig dit is die eerste keer dat tronkstraf opgelê is aan iemand wat ʼn fietsryer in ʼn tref-en-trap-ongeluk doodry. Volgens die berig is Merrick skuldig bevind op aanklag van strafbare manslag en op drie aanklagte wat met die oortreding van padveiligheidswette verband hou. Merrick het glo aangedui dat hy teen sy skuldigbevinding en vonnis gaan appelleer.

Beth Roux, Koos se weduwee, het gesê sy is gelukkig met die vonnis en het die PPA bedank vir die bystand in die saak.

Maroela Media het vroeër berig dat Roux en sy seun, Kobus (toe 19 jaar oud), op 12 Mei van hulle fietse af gery is op die Bottelary-pad oorkant die Soneike-winkelsentrum voordat die motoris van die toneel gevlug het. Roux is op die toneel dood en Kobus het ligte beserings opgedoen.

Merrick (toe 51 jaar oud) het hom tien dae ná die voorval aan die polisie oorgegee. Hy het kort daarna in die hof verskyn en is op borgtog van R3 000 vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Carel ·

Ek dink ook dit is heeltemal te lig
En sy lisensie opgeskort terwyl hy in die tronk sit – Lagwekkend

Johan ·

So ‘n paar jaar gelede is my broer ook gedood in ‘n tref-en-trap ongeluk (hy was ook op ‘n fiets). Die ou het ‘n boete gekry (R10 000) en moes net aan ons die geld betaal wat die POV. nie gedek het nie (omtrent R3000). Daarby 5 jaar opgeskort.
Hierdie is nou wel baie lig maar dis tenminste vordering.

Kaspaas ·

Belaglik en na minder as n jaar is hy uit. Hy moes vir ten minste 5-8 jaar gesit het en lisensie vir 5 jaar opgeskort word wat begin op die dag van sy vrylating anders help opskort van lisensie niks

Kasmaas ·

Kaspaas, hoekom moet sy lisensie vir 5 jaar opgeskort word as hy vir 8 jaar sou tronk toe gaan? Dit maak net nie sin nie. Gaan hy met sy kar daar in die tronk rondry? Ek dink nie so nie.

Werner ·

Mens kan nie eers fiets ry in hierdie land nie, sonder om dood gery te word nie.

Gatvol verby ·

Heeltemal n te ligte vonnis. Dis so goed soos moord as jy soos n lafaard wegjaag. Wat is die verskil. Duidelik is die verkeerde mense regters in ons land.

Deon ·

Dis uiters belaglik, hy (Merrick) kry net 3 jaar en wil nog appelleer…..hy hoort ten minste vir 10 jaar in die tronk!

Dereck Le Roux ·

As hy homself so lank na die ongeluk gaan oorgee het aan die polisie was hy dalk waarskynlik nog besope toe hy die dokter en sy seun omgery het, weereens die land se konstitusie en die kriminele reg se dit alles, die grondwetlike regte van die krimineel en die slagoffers se regte is nie van belang nie want gaan hy dalk tronk toe is hy spoedig uit op parool terwyl die huisgenote en geliefdes nog moet sukkel om afsluiting te kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.