Man laat sy ma vir dood agter, hoor hof

mes-aanval

Argieffoto

ʼn Man wat daarvan beskuldig word dat hy sy ma oor uitstaande skuld vermoor het, het haar vir dood agtergelaat terwyl hy met sy lewe aangegaan het, het die Johannesburgse landdroshof Donderdag gehoor.

Daluxolo Sihlali (42) word aangekla vir die moord op sy ma, Doreen Sihlali (58), in September verlede jaar. Die staat het in sy slotargument gesê Sihlali het nie vir sy ma hulp gaan soek terwyl sy in ʼn plas bloed op die vloer gelê het nie.

Sihlali beweer hy het sy ma per ongeluk met ʼn mes gesteek nadat hulle ʼn rusie oor geld gehad het. Landdros Simon Radasie het aan Sihlali se regsverteenwoordiger, Leonita Abramowitz, gevra waarom hy nie ʼn ambulans of polisie ontbied het om sy beseerde ma te help nie, waarop sy erken het dit is “baie vreemd” dat hy nie het nie.

Talita Louw, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê die enigste rede waarom Sihlali nie hulp ontbied het nie, was omdat hy sy ma doodgemaak het en nie in hegtenis geneem wou word nie.

Doreen se liggaam is dae ná haar moord in haar huis in Naturena, suid van Johannesburg, ontdek. Sihlali het voorheen aan die hof gesê hy en sy ma het rusie gemaak oor uitstaande betalings op die huisverband en die feit dat die bank gedreig het om op die huis beslag te lê weens sy ma se dobbelprobleem.

ʼn Patoloog het in Julie getuig dat ʼn nadoodse ondersoek gewys het dat Doreen ʼn steekwond aan die linkerkant van haar nek opgedoen het. Twee snye aan haar voorkop en snye agter haar kop is moontlik deur ʼn hamer veroorsaak.

Sihlali het skuld ontken op ʼn aanklag van moord. Die hof sal na verwagting op 9 September uitspraak lewer.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.