Man lank tronk toe vir brand op trein

Argieffoto

’n Werker by ’n taxi-staanplek in Eersterivier in die Wes-Kaap is Woensdag tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ʼn trein aan die brand gesteek het. Die skade het sowat R3,5 miljoen beloop.

Ricardo Khan is skuldig bevind op aanklag van die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur. Dit het tydens die verhoor aan die lig gekom dat die taxibedryf bevoordeel word wanneer treine buite diens gestel word, en die beskuldigde het getuig dat hy meer betaal word as meer taxi’s bedryf word.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê dit het in die hof uitgekom dat Khan die trein op 20 Maart 2020 aan die brand gesteek het. ’n Pendelaar het ’n wetstoepasser genader en Khan as verdagte uitgewys.

“’n Beampte van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het ’n video van die voorval gemaak en Khan is daarop ook as verdagte geïdentifiseer en in hegtenis geneem,” sê Ntabazalila.

Khan is borgtog geweier en het verskeie kere in die hof verskyn. Hy is in Desember verlede jaar verhoor.

Jan Paul Jordaan, hoofondersoeker van Prasa, het getuig dat Prasa maandeliks sowat 70% onder sy begroting presteer. Dit is omdat Prasa nie in staat is om inkomste te genereer nie omdat daar nie treine beskikbaar is nie.

Hy het aangedui dat dit ʼn impak nie net op pendelaars het nie, maar ook op die hele gemeenskap.

Herold Jacobus van Reenen, ’n senior beskermingsbeampte by Prasa, het gesê sedert 2019 was daar vier treinbrande, diefstal van hardeskywe op stasies, vandalisme asook diefstal van koperkabels. Hy het getuig treine is aan die brand gesteek, wat beteken daar is geen beweging van pendelaars nie en die ooglopende ander keuse is om taxi’s te gebruik.

Die staatsaanklaer, adv. Aradhana Heeramun, het aangevoer dat die finansiële verlies wat Prasa gely het een van die faktore is wat die hof moet oorweeg.

“Die impak wat hierdie voorvalle op die armes in ons gemeenskappe het, is egter waar die werklike tragedie lê. Treine is die goedkoopste vorm van vervoer. Wanneer treine buite gebruik gestel word, word pendelaars gedwing om taxi’s te gebruik, wat duurder is,” het Heeramun in die hof gesê.

“Slegs die taxibedryf baat daarby wanneer treine buite werking is. Prasa moet pendelaars vergoed weens treine wat buite gebruik is. Die vervanging van die waens kom teen buitensporige koste.”

Heeramun het die vonnis verwelkom en gesê die suksesvolle vervolging is te danke aan spanwerk en die toewyding van alle rolspelers.

“Die ondersoekbeampte, sers. Marthiens Jacobs, moet geloof word vir sy harde werk. Dit was moeilik om die getuies op te spoor en hul verklarings te veilig af te neem ná die voorval.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Dis die SA se weergawe van die “vryemarkstelsel” vir jou….wat n grap. Die taxis slaan die ghitaar mense. Hoe vorder die Weskaap se onafhanklikheid?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.