Man lewenslank tronk toe ná hy buurvrou verkrag

hof-hamer

Argieffoto

ʼn 24-jarige man is Donderdag in die KwaMhlanga-streekshof in Mpumalanga tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van sy 43-jarige buurvrou.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, sê die man, Jackson Nkosi, het September 2018 na sy buurvrou se huis in Moloto, KwaMhlanga, gegaan om klaarblyklik ʼn selfoon te leen. Hy het vir haar gesê dat sy huis se krag af is en dat hy die selfoon as ʼn flits wil gebruik.

“Die buurvrou het ʼn paar minute later na Nkosi se huis gegaan om haar selfoon te gaan haal. Kort daarna het Nkosi teruggegaan na die buurvrou se huis onder die voorwendsel dat hy weer die selfoon nodig het. Hy het toe die buurvrou begin aanrand, haar verwurg en verkrag,” sê Nyuswa.

Nyuswa sê die ander bure het die vrou gehoor skree en die polisie in kennis gestel. Nkosi is terstond in hegtenis geneem.

Nkosi het in die hof onskuldig gepleit en volgehou dat die verkragting nie plaasgevind het op die beweerde datum nie. Hy het beweer dat hy en die buurvrou ʼn geheime liefdesverhouding gehad het en dat hulle dit van die familie wou weerhou.

Aanklaer Bianca Harmse het die getuienis gelei van die slagoffer en van ʼn ander buurman wat gesien het hoe Nkosi die slagoffer met geweld uit haar huis dwing. Die mediese verslag het ook fisieke beserings bevestig.

Nkosi is skuldig bevind.

Tydens vonnisoplegging het Harmse aangevoer dat Nkosi skuldig bevind is aan ʼn ernstige oortreding en daarom ʼn voorgeskrewe minimum vonnis opgelê moet word in die stryd om geslagsgebaseerde geweld te bestry. Die hof het Nkosi tot lewenslange tronkstraf gevonnis en hy is onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

“Die NVG is oortuig dat hierdie swaar vonnis die gemeenskap en toekomstige verkragters sal afskrik,” sê Nyuswa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Misky ·

Jammer om julle babbel te bars, maar niks skrik hulle af soos julle hoop nie. Inteendeel, dit word net al erger.

Hennie ·

Wat?? Hoe werk die wet? Lewenslank vir ‘n verkragter terwyl boere-moordenaars en vulgêre aanranders van vroue ‘n paar jaar kry en boonop mag aansoek doen om parool.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.