ʼn 25-jarige man is Vrydag in die hooggeregshof in Grahamstad in die Oos-Kaap tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op ʼn tweejarige en die aanranding van die kind se ma.
Kol. Sibongile Soci, woordvoerder van die polisie, sê Jan Roman het op 2 Februarie 2019 na sy meisie se huis in Langstraat, Pearston, gegaan en haar aangerand en daarna haar tweejarige kind gegryp.
Die polisie se hulp is ontbied en met hul aankoms by die huis is vasgestel dat Roman die tweejarige in sy bolyf gesteek het.
Die peuter het aan sy beserings beswyk en is op die toneel dood verklaar.
ʼn Saak van moord is by die Pearston-polisiestasie aanhangig gemaak. Roman is summier in hegtenis geneem en was tot nou in aanhouding.
Lt.genl. Liziwe Ntshinga, die provinsiale polisiekommissaris in die Oos-Kaap, het die lewenslange vonnis verwelkom. Sy het ook die ondersoekbeampte en die vervolgingsgesag geloof vir hul goeie werk wat tot die strawwe vonnis gelei het.
“Kinders is onskuldig en moet daarom beskerm word teen alle gevaar. Jou huis is veronderstel om ʼn hawe van veiligheid te wees,” sê Ntshinga.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
7 Kommentare
Bring die doodstraf terug. Die tronke is oorvol.
Vrot vullis, vrot!
‘n Onskuldige kind! SAVAGE!
Ons huise is lankal nie meer veilig nie. Niemand is meer veilig in hulle eie huise nie.
Nou gaan hy lekker sit in die vyfster hotel.