Man lewenslank tronk toe vir moord op polisieman

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die 50-jarige John London Molefe is Woensdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis in die Springs-streekhof vir die moord op ʼn polisiebeampte van die Dunnottar-polisiestasie in Nigel, Gauteng.

Dié polisiebeampte is drie jaar gelede raakgeskiet toe Molefe en twee ander verdagtes een aand by die polisiestasie ingebreek het om vuurwapens te buit. Konst. Aaron Vusi Mahlangu wat dié aand aan diens was saam met ʼn ander polisiebeampte, is geskiet en is later in die hospitaal dood.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê Molefe en sy twee trawante, Mduduzi Jali (49) en Prince Mnisi-Thobe Zondozi (38), het die aand van 8 Junie 2015 op die Dunnottar-polisiestasie toegeslaan om vuurwapens uit die kluis te steel. Hulle wou die vuurwapens steel vir ʼn gewapende rooftog wat hulle in Mpumalanga beplan het. Een van Mahlangu se kollegas was boonop glo ook kop in een mus met die rowers.

Mogale sê die drie verdagtes het begin skiet en Mahlangu is in die proses getref. Die ander polisiebeampte het daarin geslaag om ongedeerd van die voorval af te kom. Mahlangu het bly terugskiet totdat die verdagtes gevlug het.

Mahlangu is agt keer getref. Hy was langer as twee maande in die hospitaal, waar hy toe later aan sy beserings beswyk het.

Mogale sê die Valke het Mpho Matsoso, ʼn 30-jarige polisiebeampte van dieselfde polisiestasie, net ná die voorval in hegtenis geneem. Hy was glo kop in een mus met die verdagtes om die vuurwapens te steel. Matsoso het almal ʼn rat voor die oë gedraai deur hom ná die voorval na die polisiestasie te haas en ʼn saak te open.

Die drie verdagtes, Molefe, Jali en Zondozi, is ʼn maand ná die voorval in Kwa-Thema in Ekurhuleni vasgetrek.

Die verdagtes het aan die polisie erken dat Matsoso hulle voor die voorval verseker het dat slegs een vrouepolisiebeampte die aand van die voorval by die polisiestasie aan diens sou wees. Matsoso sou glo net buite gepatrolleer het.

“Toe die verdagtes die polisiestasie binnestorm, was hulle verslae om konst. Mahlangu en nóg ʼn polisiebeampte daar te vind. Hulle planne is toe in die wiele gery,” sê Mogale.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sarel ·

Lewenslank….effektief hoeveel jaar en dit vir man se lewe. Maar vandag word die Misdadiger ‘n Held terwyl die Geregsdienaar gebrandmerk word

Prikkie ·

En nou moet ons hom vir jare voer dit nadat hy ‘n polisieman se dood veroorsaak het!

BoerSonderRoer ·

Voer. Oppas. Opvoed. Behuis. Oefen. Oplei. Mediese sorg.

Andre ·

Wat kan ons meer doen as om uit te skree “hoeveel nog voordat die huidige land sy deure gaan toemaak” want dit bly by praat; praat;praat en nogmaals praat

Scalla ·

5 jaar gelede gebeur maar hy is 3 jaar gelede raakgeskiet, die somme klop nie en nou moet daar lewenslank in die tronk vir hulle gesorg word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.