Man loop ‘doodluiters weg’ ná hy Potch-student skiet

Argieffoto

ʼn 21-jarige honneursstudent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus sterk tuis aan nadat sy vroeër dié week deur ʼn onbekende man geskiet is.

Magda Geldenhuys, ʼn nagraadse student in berading, het Donderdag aan Maroela Media vertel sy het eers ná die voorval in die hospitaal besef hóé naby sy aan die dood gekom het.

Geldenhuys het Sondagaand saam met ʼn vriendin gekuier kort voor die voorval gebeur het. Sy sê hulle het ná middernag, omstreeks 03:00 Maandagoggend, besluit om terug huis toe te keer aangesien haar vriendin aan diabetes ly en ʼn insulientekort ervaar het.

Sy sê ʼn groep van drie verdagtes het haar en haar vriendin by hul kompleks ingewag. “Ons het pas stilgehou, toe sien ek daar staan een van die verdagtes langs die motordeur,” sê sy. “Ek het die deur oopgemaak waarna hy die pistool op my gesig gerig het. Ek het hom gevra wat hy wil hê, en hy het gevra vir selfone. Ek het gesê ek het nie my selfoon by my nie. My vriendin het ook vir haar selfoon gekrap en gesê sy dink nie sy het hom by haar nie. Ek het ons beursies vir hom aangebied, maar ek kon sien hy het kwaad geraak.

“Ek het in daardie stadium steeds in die motor gesit. Die man het toe omgedraai en my in die proses geskiet. Hy het nie eens weggehardloop nie, net doodluiters saam met die ander verdagtes weggeloop van die toneel af.”

Geldenhuys sê sy was aanvanklik nie seker of sy wel raakgeskiet is nie. “Ek het onmiddellik nadat hy weggeloop het tussen die bestuurdersitplek en die voorste passasiersitplek deurgeklim en agter gaan lê en toe my vriendin beveel om hospitaal toe jaag.

“Ek het in daardie stadium nie geweet of ek wel geskiet is nie; om die waarheid te sê, ek het uit die staanspoor nie gedink hy sou my skiet nie. Ek het nie werklik pyn ervaar of vir my lewe gevrees nie. Toe ek my hand agter teen my rug sit, het ek die bloed gevoel en geweet ek is raakgeskiet,” sê sy.

Die koeël het haar vel by haar regterheup gepenetreer en is weer by haar linkerboud uit. Geldenhuys sê dit is “net genade” dat die patroon nie meer skade aangerig het nie. “Met my aankoms by die hospitaal het die koeël sommer uit my jean geval. Die koeël is net onder my vel in en het my ruggraat heeltemal gemis. Dit is ʼn wonderwerk en ek sien God se hand daarin.”

Geldenhuys het op pad na die hospitaal haar ma self gebel om haar oor die voorval in kennis te stel. “Ek het haar gebel en gesê: ‘Mamma, ek is geskiet, maar ek dink ek is oukei.’ Sy het dadelik deurgekom Potchefstroom toe.”

Sy het nog nie haar studies hervat nie, terwyl sy tuis aansterk. Volgens haar ervaar sy nog pyn, maar dit is nie “ondraaglik” nie.

Ao. Mpho Manyobe, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

Manyobe sê die polisie doen “alles in sy vermoë” om die skuldiges vas te trek. “Die polisie volg alle moontlike leidrade op, maar tot dusver is nog niemand in hegtenis geneem nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

wraggies ·

Hierdie tipe mense lewe veels te gemaklik in die nuwe SA.

adriana ·

Arme student!!
So jammer om te hoor.
Ek hoop jy herstel vinnig met jou mede studente en ouers se ondersteuning.
Sterkte vorentoe.

CJ ·

Praat ons nou van dieselfde land wat onlangs deur Lindiwe Sisulu as n “wetsgehoorsame” land beskryf is?

Countryboy ·

Vreesloos….die skelms hardloop nie eers meer weg nie..maar stap vreesloos weg van sulke tonele asof daar niks fout is nie…want hulle weet hulle sal niks oorkom nie….ons mense moet besef dat o s geteiken word…ons moet paraad wees en die tyd is nou om vuur met vuur te veg…ek gaan nerens sonder my pistool aan my sy nie..nie uit paranoa nie..maar omdat ek weet as wit mens word ons geteiken en kan dit enige dag met my ook gebeur…en ek weier om sonder n geveg te gaan…sterkte aan die jong dame. God se hand was werklik oor julle…mag jy spoedig herstel en jy en almal wat die berig lees besef ons word afgemaai en dat ons weerstand sal MOET bied om dit te kniehalter.

Ronel ·

‘n Mens ly aan diabetes, of jy lei ‘n groep mense (soos in leier) Graad 3 Afrikaans.

Maggies ·

Sy het haar ma self gebel oppad hospitaal toe maar sy is geskiet omdat sy nie n selfoon by haar gehad het nie?

Sorine ·

Sy het haar ma veel later, nadat sy behandel is, van die hospitaal af gebel.

Philip Geldenhuys ·

Haar vriendin het haar foon by haar gehad, sy kon dit net nie vind toe hy vra vir dit nie.

Bernadette ·

Sy’t haar ma van die hospital af gebel…..hulle het darm telefone daar ook.

Rika Kruger ·

Hulle hardloop juis nie weg nie want dan vestig hulle aandag op hulle. Gewetenloos verby. Sterkte Magda saam sê ons dankie vir die genade so groot ontvang.

Leser ·

Ag hemel mense…is dit nodig om met ELKE LIEWE brokkie nuus wat gelewer word te soek vir spelfoute? Dit raak irriterend om die minste te se!
Aan die jong dame wat geskiet is, ek hoop jou herstel is vinnig en volkome.

Cherokee ·

En ek waardeer dit nogal. Kyk hoe lekker verduidelik Ronel. As dit nie was vir mense soos sy nie, sal vele mense nooit leer skryf nie en ander ook verkeerd leer.

André ·

Ek waardeer dit baie as ‘n berig sonder spel- en taalfoute geskryf word en dit kan gedoen word. ‘n Mens wil mos trots wees op jou werk, veral as duisende mense dit lees. Ek vind dit weer baie irriterend as ek spelfoute sien in omtrent elke tweede berig. Radioprogramme se taalgebruik het ook al baie verswak. Selfs die onderskrifte van programme op televisie het partykeer spelfoute.

Taalmens ·

Liewe Leser, niemand gaan soek pertinent vir foute nie. Dis die verantwoordelikheid van die skrywer om alle spel- en taalfoute uit te skakel deur die berig sorgvuldig deur te gaan voor plasing. Ons maak egter almal foute, daarom, juis ter wille van ons taal, kan ons mekaar gerus help as ietsie deurglip. Saam hou ons die standaard van Afrikaans hoog.

GK ·

Potch besig om regte misdaad dorp te word. As dit nie die arrogante karwagte is by Brug wat kinders terroriseer dan word hul sommer helder dag beroof.

pierre de villiers ·

So jammer, maar ai, daardie tyd van die oggend? Verlede week is ‘n man dood geskiet by Strandfontein. Saam met sy vrou en nog twee vroue in die middernag op ‘n verlate strand gaan stap. Dit is mos moeilikheid soek.

vonna ·

ASB seuns en dogters wat by die pukke studeer….moenie in die nag veral na middernag rondloop nie. .!

Wonder ·

Eich, die woord veilig bestaan net nie meer in ons pragtige land nie. Word gou gesond meisie. Nou moet jy net die “positiewe” daar uit neem. Jy sal ‘n beter begrip hê vir jou pasiente/kliënt wat ook deur sulke dinge gegaan het in die toekoms.

Koos ·

Die student Hannah Cornelius was ook oorval in die vroeë oggendure in ‘n kar. Mense, vermy dit om rond te ry of buite te wees daardie tyd van die nag. Bly eerder oor as om ‘n statistiek te word. Hierdie vrou is baie gelukkig om dit te oorleef het.

Bangges ·

Hulle is nie bang vir die polisie nie want hulle val sommer tjop tjop ‘n polisiestasie aan en skiet 5 gewapende polisiemanne dood .so waarvoor moet hulle bang wees? Word hulle gevang en aangekla . loop die helfte vry want daar is gewoonlik ‘n ‘gebrek aan bewyse’, die ander kry borgtog en verdwyn na hulle onderskeie ‘tuislande’ .. en sou hulle so ongelukkig wees om dalk ‘n paar jaar tronkstraf te kry ONTSNAP hulle .so WAARVOOR MOET DIE KRIMINELE IN SA BANG WEES????

Melodi Williamson ·

Weet enigiemand watter kompleks of straat die voorval plaasgevind het?

Kallie ·

Ek stem saam ,moenie meer so laat aand\nag\oggend buite wees nie. Dis te gevaarlik…..dink 2 keer voordat julle jongmense dit doen. Ek is jammer dat julle nie meer so vryelik kan rondbeweeg nie….ongelukkig word ons tans aan hierdie soort misdaad onderwerp.

Wolf ·

Ai die rasse kaart! ek lees dat dit twee blanke dogters is wat geskiet is, ek lees nerens wat die kleur van die skieter/s was nie. Is dit nou objektiewe berig gewing? Nee wat dit is niks anders as n poging om mense kwaad te maak nie. Daar is in die nuwe demokrasie nie plek vir pollitieke korrektheid nie. Jammer vir al die spel foute.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.