Man met AK47, gekaapte motor vasgetrek

(Argieffoto)

ʼn 32-jarige man wat in besit van ʼn AK47 was, is Dinsdag in sentraal-Johannesburg vasgetrek ná ʼn jaagtog met die polisie. Die man het tydens die jaagtog ʼn kombi en drie mense getref, onder wie ʼn kind wat noodlottig beseer is en ʼn vrou wat ernstig beseer is.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, sê die polisie het die verdagte in Hillbrow in ʼn Volvo gewaar. Hulle het die verdagte probeer stop, maar hy het weggejaag. ʼn Jaagtog het tussen hom en die polisie gevolg.

“Die verdagte het op die hoek van Polly‑ en Pritchard-straat in Hillbrow beheer oor die motor verloor en teen ʼn hengse spoed in ʼn kombi vasgejaag,” sê Makhubele.

“Tydens die jaagtog het die verdagte drie mense met sy motor gestamp. Een kind is op die toneel dood, terwyl ʼn vrou met ernstige beserings na ’n hospitaal geneem is vir mediese behandeling.”

Die verdagte het na die botsing probeer weghardloop, maar hy is aangekeer en in hegtenis geneem.

“Die polisie het die man se motor deursoek en op ammunisie en vier ongelisensieerde vuurwapens, waaronder ʼn AK47, afgekom. Daar is ook vasgestel dat die voertuig vandeesmaand in Ekurhuleni gekaap is.”

Die polisie het beslag gelê op die vuurwapens en vir ballistiese toetse gestuur om vas te stel of die wapens tydens enige vorige misdade gebruik is. Die verdagte sal ook ondersoek word om te kyk of hy by ander misdade in Gauteng betrokke was.

Genl.maj. Tommy Mthombeni, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, het die vinnige reaksie van die polisiebeamptes geprys.

“Hierdie inhegtenisneming en beslaglegging is ’n duidelike aanduiding dat misdadigers nie kan doen wat hulle wil in ons provinsie nie. Die polisie in Gauteng is daartoe verbind om ’n veiliger provinsie vir sy inwoners te skep en ons sal voortgaan om die verspreiding van onwettige vuurwapens hok te slaan,” het Mthombeni gesê.

Die verdagtes sal binnekort in die landdroshof in Johannesburg verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
SomeOne

en hier kom ons weer oor die vuurwapens se besit, ons wat wettig ‘n vuurwapen besit en weet hoe om dit te gebruik, sal NIE sulke twak aanvang om weg te jaag nie

Ian

Nou wat van die politici wat misdadigers is en niks mee gedoen word nie? Hoekom word hulle nie gearresteer en tronk toe gevat nie? Soos bv sweli mkizi waarvan daar nou bewyse is.

Persheks Adri

Daar moet nog duisende indien nie honderde duisende onwettige wapens wees! Hoed wil ons ontwapen pffft ain’t gonna happen kyk waarmee sit die misdadigers!