Man met beweerde Krejcir-bande gevonnis

Argieffoto

ʼn Man wat daarvan beskuldig word dat hy deel is van ʼn bende wat glo sluipmoordaanvalle teen ondersoekers in die saak teen Radovan Krejcir beplan het, is Donderdag op ʼn rits ander klagte in die Johannesburg-streekhof gevonnis.

Owen Serero (37) het tussen 2011 en 2014 ʼn skrikbewind gevoer. Sy modus operandi was onder meer om nuwe BMW’s na te spoor en te kaap wanneer die motors by BMW-handelaars af- of opgelaai is. Hy is in dié tyd in hegtenis geneem, maar het uit aanhouding ontsnap toe hy in die hof verskyn het.

Serero is egter is op 9 Januarie 2014 weer in hegtenis geneem op aanklag dat hy deel was van ʼn groep wat ʼn sluipmoordpoging beplan het op die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan en kol. Nkosana Ximba van misdaadintelligensie. Krejcir is een van die ander beskuldigdes in dié saak wat op 17 Oktober weer in die hof aangehoor word.

Serero is egter ook weer aangekla in verband met die ander sake waarop hy tereggestaan het voordat hy ontsnap het. Hy is Donderdag tot effektief 25 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en ontvoering.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die vonnis verwelkom en die ondersoekspan geloof in hul pogings om te verseker dat Serero lank agter tralies sal wees.

“Ek is oortuig daarvan dat hy nie weer die buitekant van ʼn gevangenis sal sien nie. Sodra die saak van sameswering om moord te pleeg gefinaliseer is, sal hy weer gevonnis word en sal dit die 25 jaar wat hy nou moet uitdien langer maak.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

C ·

Die 3de laaste paragraaf moet sekerlik 25 jaar lees en nie 25 haar lees nie. Goeie tronkstraf. Baie mooi.

Tania Heyns ·

Dagsê C

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die vingerfout, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Estie ·

Ja, en intussen sorg die belastingbetalers vir hulle in die tronk.

Abe ·

Estie,
Dis nie heeltemal reg om te se die belastingbetalers sorg vir hulle in die tronk nie. Die belasting dra wel by tot korrektiewe dienste, wat een van die belangrikste funksies van enige gesonde staatsbestel is. Sonder korrektiewe dienste is een van die belangrikste bene van n demokrasie totaal verlam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.