Man met drank in motor val in modder vas

(Foto: SAPD)

’n Man van Lesotho is in die omgewing van Clocolan in die Vrystaat in hegtenis geneem nadat hy met alkohol in sy motor gereis en toe in modder vasgeval het nadat hy ’n padblokkade probeer vermy het.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die man (37) was Woensdagmiddag met alkohol in sy motor se kattebak op die R708 na Clocolan onderweg toe hy ’n padblokkade vorentoe op dié pad opgemerk het.

Die man het inderhaas ’n afdraaipad geneem in ’n poging om die owerhede te vermy. Soos die noodlot dit wou hê, het sy motor egter op dié pad in modder vasgeval.

Die man het hulp ontbied en die polisie is intussen ook van die vasgekeerde motor in kennis gestel.  Polisiebeamptes het met hul aankoms die motor met ’n Lesotho-registrasienommer deursoek en op alkohol afgekom.

Die man kon nie ’n bevredigende verduideliking vir die alkohol in sy motor gee nie en is op die toneel in hegtenis geneem. Die polisiebeamptes het ook beslag gelê op drank en kontant wat in sy reissak versteek was.

Die man word aangekla van die oortreding van die Wet op Rampbestuur.

(Foto: SAPD)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.